Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 42:6-21 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

6. Yosef was meester oor die land, dit is hy wat aan al die mense van die land graan verkoop het. Yosef se broers het gekom en hulle voor hom neergebuig met hulle gesigte na die grond toe.

7. Yosef het sy broers gesien en hulle herken, maar het as vreemdeling teenoor hulle opgetree, hulle hard aangespreek en vir hulle gesê: “Vanwaar het julle gekom?” Hulle antwoord: “Vanaf die land Kena’an om kos te koop.”

8. Yosef het sy broers herken, maar hulle het hom nie herken nie.

9. Yosef het die drome onthou wat hy aangaande hulle gedroom het en hy sê vir hulle: “Julle is spioene, julle het gekom om die oopheid van die land te sien.”

10. Hulle het hom geantwoord: “Nee, my meester, maar u diensknegte het gekom om kos te koop.

11. Ons is almal seuns van een man, ons is eerlik; u diensknegte is nie spioene nie.”

12. Hy sê vir hulle: “Nee, maar julle het gekom om die oopheid van die land te sien.”

13. Hulle antwoord: “U diensknegte is twaalf broers, seuns van een man in die land Kena’an en kyk, die jongste is vandag by ons vader, maar die een is nie meer nie.”

14. Yosef sê vir hulle: “Dit is soos wat ek vir julle gesê het: julle is spioene!

15. Hieraan sal julle getoets word: so waar as Farao leef, julle sal hiervandaan nie weggaan tensy julle jongste broer hierheen kom nie.

16. Stuur een van julle dat hy julle broer gaan haal, maar júlle sal in die tronk bly sodat julle woorde getoets kan word, of daar enige waarheid by julle is of nie; anders, so waar as Farao leef, julle is spioene!”

17. Daarop het hy hulle almal saam vir drie dae lank in die tronk gehou.

18. Op die derde dag sê Yosef vir hulle: “Doen dit en lewe, want ek het respekvolle vrees vir God!

19. As julle eerlik is, laat een van julle broers gevange bly in die huis waar julle in die tronk is, maar gaan júlle, vat die graan vir die hongersnood van julle huise

20. en bring julle jongste broer na my toe sodat julle woorde waar bewys word en julle sal nie sterwe nie. “ Hulle het so gemaak.

21. Hulle sê vir mekaar: “Ons is waarlik skuldig vanweë ons broer omdat ons die benoudheid van sy wil, emosie, verstand en lewe gesien het toe hy ons gesmeek het en ons wou nie luister nie; daarom het sy benoudheid oor ons gekom.”

Lees volledige hoofstuk Genesis 42