Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 37:2-18 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

2. Hierdie is die geskiedenis van Ya’akov. Yosef, ’n jongman van sewentien jaar oud, het die kleinvee opgepas saam met sy broers; saam met die seuns van Bilhah en die seuns van Zilpah, die vroue van sy vader. Yosef het bose dinge geskinder oor hulle by sy vader.

3. Yisra’el het Yosef meer liefgehad as al sy seuns, want hy was vir hom die seun van hoë ouderdom en hy het vir hom ’n lang kleed gemaak met lang moue.

4. Toe sy broers egter sien dat hulle vader hom meer as al sy broers liefhet, het hulle hom gehaat en kon nie vredevol en vriendelik met hom praat nie.

5. Yosef het ook ’n droom gehad wat hy vir sy broers vertel het en hulle het hom nog meer gehaat.

6. Hy het vir hulle gesê: “Luister asseblief na hierdie droom wat ek gehad het.

7. Let op, ons was besig om gerwe te bind op die land toe my gerf meteens opstaan en regop bly staan terwyl julle gerwe reg rondom kom staan en hulle voor my gerf neerbuig.”

8. Sy broers sê vir hom: “Sal jy miskien koning wees oor ons? Of sal jy miskien oor ons heers?” Hulle het hom nog meer gehaat oor sy drome en oor sy woorde.

9. Toe het hy nog ’n droom gehad en dit aan sy broers vertel en gesê: “Let op, ek het nog ’n droom gehad; die son en die maan en elf sterre het hulle voor my neergebuig.”

10. Toe hy dit vir sy vader en sy broers vertel, het sy vader hom hard bestraf en vir hom gesê: “Watter droom is dit wat jy gedroom het? Sal dit gebeur dat ons werklik kom, ek en jou moeder en jou broers, om op ons gesigte voor jou op die grond neer te val?”

11. Sy broers was jaloers op hom, maar sy vader het wat hy gesê het bewaar.Hand 7:9

12. Sy broers het hulle vader se kleinvee by Sh’khem gaan oppas.

13. Yisra’el sê vir Yosef: “Pas jou broers nie die vee op by Sh’khem nie? Kom, laat ek jou na hulle toe stuur.” Hy antwoord hom: “Hier is ek!”

14. Hy sê vir hom: “Gaan asseblief en kyk of dit goed gaan met jou broers en of dit goed gaan met die vee en bring vir my woord terug.” So het hy hom uit die dal van Hevron uit weggestuur en hy het by Sh’khem aangekom.

15. ’n Sekere man het hom gekry en let op, hy het in die veld rondgedwaal en die man vra vir hom: “Wat soek jy?”

16. Hy antwoord: “Ek soek my broers. Vertel my asseblief waar hulle die vee oppas.”

17. Die man sê: “Hulle het hiervandaan weggegaan, want ek het hulle hoor sê: ‘Laat ons na Dotan gaan’.” Yosef het agter sy broers aan gegaan en hulle in Dotan gekry.

18. Toe hulle hom van ver af sien voordat hy naby hulle kom, het hulle listig beplan om hom dood te maak.

Lees volledige hoofstuk Genesis 37