Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 31:32-43 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

32. By wie u ook al u gode vind, laat hom nie lewe nie! Onderskei wat van u by my is, in die teenwoordigheid van ons broers en vat dit saam.” Ya’akov het nie geweet dat Ragel dit gesteel het nie.

33. Lavan het in die tent van Ya’akov, van Le’ah en van die twee slavinne ingegaan, maar hy het niks gekry nie. Toe het hy uit die tent van Le’ah uitgegaan en in die tent van Ragel gekom.

34. Ragel het die familie afgode gevat en dit in die kameelsaal gesit en daarop gaan sit. Lavan het die hele tent deurgevoel, maar niks gekry nie.

35. Sy sê vir haar vader: “Laat dit nie brand in my meester se oë (ontevrede wees) omdat ek nie vir u kan opstaan nie, want dit gaan met my volgens die pad van vroue.” Hy het gesoek, maar die familie afgode nie gekry nie.

36. Ya’akov was woedend en hy het met Lavan gestry en Ya’akov antwoord vir Lavan en sê: “Wat is my oortreding, wat is my sonde dat u my so vuriglik agtervolg het?

37. Noudat u al my goed deursoek het; wat het u van al u huisware gevind? Sit dit hier voor my broers en u broers neer en laat hulle oordeel tussen ons twee.

38. Hierdie twintig jaar wat ek by u was, het u skaap- en bokooie geen misdrag gehad nie en die ramme van u kleinvee het ek nie geëet nie.

39. Wat die wilde diere verskeur het, het ek nie na u gebring nie; ek het die verlies daarvan gedra. U het dit van my hand geëis, of dit bedags of snags gesteel is.

40. Daar was ek, bedags deur die hitte verteer en snags deur die koue en my slaap het gevlug van my oë.

41. So was ek in u huis vir twintig jaar; ek het u veertien jaar gedien vir u twee dogters en ses jaar vir u kleinvee en u het my loon tien maal verander.

42. As die God van my vader, die God van Avraham en die Vrees van Yitz’gak, nie by my was nie sou u my sekerlik nou met leë hande weggestuur het. God het my swaarkry en die moeitevolle werk van my hande gesien en u verlede nag bestraf.”

43. Lavan antwoord en sê vir Ya’akov: “Hierdie dogters is my dogters en hierdie seuns is my seuns en hierdie troppe is my troppe, alles wat jy sien, is myne, maar wat sal ek my dogters vandag kan aandoen of aan hulle seuns waaraan hulle geboorte gegee het?

Lees volledige hoofstuk Genesis 31