Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 27:29-37 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

29. Volke sal jou dien en nasies sal voor jou neerbuig. Wees ’n heerser oor jou broers en laat die seuns van jou moeder voor jou neerbuig. Vervloek is elkeen wat jou vloek en geseënd is hulle wat jou seën.”

30. Dit het so gebeur dat, net toe Yitz’gak Ya’akov klaar geseën het en Ya’akov nog skaars uit die teenwoordigheid van sy vader Yitz’gak weggegaan het, sy broer `Esav van die jag af gekom

31. en ook ’n smaaklike ete voorberei en dit na sy vader gebring en aan sy vader gesê het: “Laat my vader regop sit en eet van die wildsvleis van sy seun sodat u gees, liggaam, wil en verstand my kan seën.”

32. Sy vader Yitz’gak vra hom: “Wie is jy?” Hy antwoord: “Ek is u seun `Esav, u eersgeborene.”

33. Yitz’gak het gebewe van angs en groot vrees en gesê: “Wie is die een wat wild gejag en vir my gebring het? Ek het alles geëet voordat jy gekom het en hom geseën en hy sal geseënd bly!”

34. Toe `Esav die woorde van sy vader hoor, skree hy met ’n uitermate harde en bitter uitroep en hy sê vir sy vader: “Seën my; vir my ook, o my vader!”

35. Hy antwoord: “Jou broer het met misleiding gekom en jou seën weggevat.”

36. `Esav sê: “Word hy nie by regte Ya’akov genoem omdat hy my nou twee keer onderkruip het nie? Hy het my eersgeboortereg gevat en let op, hy het nou my seën gevat!” Hy vra: “Het u geen seën vir my oorgehou nie?”

37. Yitz’gak antwoord en sê vir `Esav: “Let op, ek het hom heerser oor jou gemaak en aan hom al sy broers as diensknegte gegee en ek het hom met graan en druiwesap onderhou. Wat kan ek nou vir jóu doen, my seun?”

Lees volledige hoofstuk Genesis 27