Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 18:16-30 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

16. Toe staan die manne daarvandaan op en hulle het in die rigting van S’dom gekyk en Avraham het saam met hulle gegaan om hulle weg te bring.

17. יהוה sê: “Sal Ek vir My dienskneg Avraham wegsteek wat Ek gaan doen

18. terwyl Avraham sekerlik ’n groot en magtige nasie sal word en al die nasies van die aarde in hom geseën sal word?

19. Ek het ’n verbondsverhouding met hom sodat hy aan sy seuns en sy huis ná hom bevel sal gee dat hulle die pad van יהוה moet hou om onpartydige opregtheid en reg te doen sodat יהוה oor Avraham kan bring wat Hy oor hom gesê het.”Efe 6:4

20. יהוה het ook gesê: “Die uitroep teen S’dom en `Amorra is uitermatig en hulle sonde is oortuigend swaar.

21. Ek wil nou afgaan en kyk of hulle werklik alles gedoen het volgens die uitroep oor hulle wat na My toe gekom het en indien nie, sal Ek weet.”

22. Die manne het daarvandaan weggedraai en na S’dom gegaan, maar Avraham het nog bly staan voor die Teenwoordigheid van יהוה.

23. Avraham het nader gekom en gesê: “Sal U ook die opregte en onskuldige saam met die bose oortreder uitwis?

24. Miskien is daar vyftig opregtes en onskuldiges binne-in die stad; sal U hulle ook uitwis en die plek nie spaar ter wille van die vyftig opregte en onskuldiges wat daarin is nie?

25. ’n Verwerplike gedagte, vir U om so iets te doen: om die opregte en onskuldige saam met die bose oortreder dood te maak sodat die opregte en onskuldige gelyk is met die bose oortreder. ’n Verwerplike gedagte! Sal die Regter van die hele aarde nie regverdig oordeel nie?”

26. יהוה sê: “As Ek binne-in die stad, in S’dom, vyftig opregtes en onskuldiges kry, dan sal Ek die hele plek spaar om hulle ontwil.”

27. Avraham antwoord en sê: “Let nou op, ek het gewaag om met יהוה te praat, alhoewel ek stof en as is.

28. Miskien sal daar aan die vyftig opregtes en onskuldiges vyf kortkom; sal U ter wille van vyf die hele stad verwoes?” Hy antwoord: “Ek sal dit nie verwoes as Ek vyf en veertig daar kry nie.”

29. Hy het nog verder met Hom gepraat en gesê: “Miskien sal daar veertig gekry word.” Hy antwoord: “Ek sal dit ter wille van die veertig nie doen nie.”

30. Verder sê hy: “Laat יהוה tog nie toornig wees nie en mag ek nog iets sê. Miskien sal daar dertig gekry word.” Hy antwoord: “Ek sal dit nie doen as Ek dertig daar kry nie.”

Lees volledige hoofstuk Genesis 18