Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 1:22-31 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

22. God het hulle geseën en gesê: “Wees vrugbaar, vermeerder, vul die waters van die see en laat die voëls op die aarde vermeerder.”

23. Dit was aand en dit was oggend, die vyfde dag.

24. God het gesê: “Laat die aarde lewende wesens voortbring volgens hulle spesies: vee, kruipende diere en wilde diere van die aarde volgens hulle spesies.” Dit was presies so.

25. God het die wilde diere van die aarde gemaak volgens hulle spesies en die vee volgens hulle spesies en al die diere wat op die grond beweeg, volgens hulle spesies. God het gesien dat dít goed was.

26. God het gesê: “Laat Ons die mens maak na Ons beeld, net soos Ons en laat hulle heers oor die visse van die see, die voëls van die hemel, die vee en oor die hele aarde en oor al die diere wat op die aarde beweeg.”Efe 2:6-10; Ya’a 3:9; Open 5:10

27. God het die mens geskep na Sy beeld; na die beeld van God het Hy hom geskep; man en vrou het Hy hulle geskep.Mat 19:4; Mar 10:6

28. God het hulle geseën en God het vir hulle gesê: “Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde, onderwerp dit en heers oor die visse van die see, die voëls van die hemel en oor al die diere wat op die aarde beweeg.”Efe 2:6-10; 1 Kef 2; Open 5:10; Open 20:6

29. God het ook gesê: “Ek gee nou aan julle al die saaddraende plante, wat op die hele aarde is en al die bome met saaddraende vrugte. Dit sal julle kos wees.

30. Aan al die diere van die aarde en al die voëls van die hemel en al die kruipende diere op die aarde, waarin ’n lewende asem is, gee Ek al die groen plante as voedsel.” Dit was presies so.

31. God het alles gesien wat Hy gemaak het en let op, dit was uitermate goed. Dit was aand en dit was oggend, die sesde dag.

Lees volledige hoofstuk Genesis 1