Ou Testament

Nuwe Testament

Ester 2:12-23 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

12. Wanneer die beurt van elke meisie aanbreek om voor koning Agashverosh in te gaan nadat sy twaalf maande daar was volgens die wet vir die vroue, want so is die dae van hulle reiniging bereik: afwisselend elke ses dae met mirre-olie en ses dae lank met speserye en met ander middele vir die reiniging van vroue,

13. het elke meisie dan voor die koning gekom; wat sy ook al begeer is vir haar gegee vanuit die huis van die vroue om saam te vat na die koning se huis.

14. In die aand het sy ingegaan en in die oggend teruggekom na die huis van die vroue onder toesig van Sha’ashgaz, die koning se lyfkneg, bewaker van die byvroue; sy het nie weer by die koning ingegaan, behalwe as die koning vreugde in haar gevind het en haar by die naam roep nie.

15. Toe die beurt van Ester, die dogter van Avigayil, die oom van Mordekhai, wat haar as sy dogter geneem het, kom om in te gaan by die koning, het sy vir niks gevra nie, behalwe wat Hegai, die lyfkneg van die koning, bewaker van vroue, voorgestel het. Ester het guns gevind in die oë van almal wat haar gesien het.

16. Ester het voor koning Agashverosh in sy koninklike paleis ingegaan in die tiende maand, dit is die maand Tevet, in die sewende jaar van sy regering.

17. Die koning het Ester meer liefgekry as al die vroue en sy het guns en aanvaarding in sy oë gevind, meer as al die ander maagde sodat hy die koninklike kroon op haar kop gesit en haar koningin gemaak het in die plek van Vashti.

18. Toe het die koning ’n groot feesmaal vir al sy prinse en sy diensknegte gegee, Ester se fees en hy het verligting vir die provinsies aangekondig en geskenke gegee, volgens die vrygewigheid van die koning!

19. Toe die maagde vir die tweede keer bymekaargemaak is, het Mordekhai in die poort van die koning gesit.

20. Ester het nog nie haar familie of haar volk bekend gemaak nie, soos Mordekhai haar beveel het, want Ester het die opdrag van Mordekhai nagekom soos toe sy getrou deur hom opgevoed is.

21. Terwyl Mordekhai in daardie dae in die poort van die koning sit, het Bigtan en Teresh, twee van die koning se lyfknegte, van hulle wat die deur oppas, kwaad geword en gesoek om die hand aan koning Agashverosh te slaan

22. en dit het aan Mordekhai bekend geword, wat dit aan Ester, die koningin vertel het en Ester het dit in die naam van Mordekhai aan die koning vertel.

23. Toe die saak ondersoek en so bevind is, is hulle twee aan ’n galg opgehang en dit is in die boekrol van die kronieke voor die koning opgeskryf.

Lees volledige hoofstuk Ester 2