Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 8:21-31 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

21. of anders, as jy My volk nie laat gaan nie, let op, Ek sal swerms vlieë teen jou, teen jou diensknegte, teen jou volk en teen jou huise laat kom sodat die huise van die Mitzrayiete vol vlieë sal wees en selfs die grond waarop hulle staan.

22. Op dié dag sal Ek die land Goshen, waarin My volk woon, afsonder sodat daar geen swerm vlieë sal wees nie sodat jy kan weet dat Ek, יהוה, in die wêreld is.

23. Ek het ’n skeiding gestel tussen My volk en jou volk. Môre sal hierdie teken plaasvind.’”

24. יהוה het so gedoen: dik swerms vlieë het in die huis van Farao, in die huis van sy diensknegte en in die hele land van Mitzrayim gekom; die land het verval as gevolg van die swerms vlieë.

25. Farao laat Moshe en Aharon roep en sê: “Gaan, offer aan julle God in die land.”

26. Moshe antwoord: “Dit is nie reg om dit so te doen nie, want ons offer aan יהוה, ons God, wat vir die Mitzrayiete ’n gruwel is. As ons dit wat ’n gruwel is vir die Mitzrayiete voor hulle oë offer, sal hulle ons nie dan stenig nie?

27. Ons sal drie dagreise ver die wildernis ingaan sodat ons aan יהוה, ons God, kan offer soos Hy ons beveel.”

28. Farao het gesê: “Ek sal julle laat gaan sodat julle aan יהוה, julle God, kan offer in die wildernis; julle moet net nie te ver weggaan nie. Tree in vir my.”

29. Moshe antwoord: “Let op, ek gaan van u af weg en sal intree by יהוה sodat die swerms vlieë Farao, sy diensknegte en sy volk môre mag verlaat. Laat Farao net nie langer bedrieglik optree deur die volk nie te laat gaan om aan יהוה te offer nie.”

30. Moshe het van Farao af weggegaan en by יהוה ingetree.

31. יהוה het gedoen volgens die woord van Moshe: Hy het die swerms vlieë van Farao, van sy diensknegte en sy volk weggevat. Daar het nie een oorgebly nie.

Lees volledige hoofstuk Eksodus 8