Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 4:10-26 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

10. Moshe sê vir יהוה: “Asseblief יהוה, ek was nog nooit ’n man van woorde nie; nie onlangs nie en ook nie in die verlede nie en ook nie vandat U met U kneg gepraat het nie, want ek is stadig van spraak en van tong.”

11. יהוה antwoord hom: “Wie het die mens se mond gemaak, of Wie maak hom stom of doof, of siende of blind? Is dit nie Ek, יהוה, nie?

12. Gaan nou en Ek self sal met jou mond wees en jou leer wat jy moet sê.”

13. Hy sê: “O, יהוה, stuur asseblief die boodskap deur wie se hand U wíl.”

14. Toe brand die woede van יהוה teen Moshe en Hy sê: “Is Aharon, die Leviet, nie jou broer nie? Ek weet dat hy goed kan praat en let op, hy gaan ook reeds uit om jou te ontmoet en as hy jou sien, sal hy bly wees in sy wil, emosie en verstand.

15. Jy moet met hom praat en die woorde in sy mond sit en Ék self sal met jou mond en sy mond wees en julle leer wat julle moet doen.

16. Meer nog, hy moet namens jou met die volk praat en hy sal vir jou soos ’n mond wees en jy sal vir hom soos God wees.

17. Vat hierdie staf, waarmee jy die tekens sal doen, in jou hand.”

18. Moshe het weggegaan en by sy skoonvader Yitro teruggekom en hy sê vir hom: “Laat my asseblief teruggaan na my broers wat in Mitzrayim is, om te sien of hulle nog lewe.” Yitro sê vir Moshe: “Gaan in vrede.”

19. יהוה het vir Moshe in Midyan gesê: “Gaan terug na Mitzrayim, want al die manne wat jou lewe gesoek het, is dood.”

20. Moshe vat toe sy vrou en sy seuns en laat hulle op ’n donkie ry en gaan terug na die land van Mitzrayim. Moshe het ook die staf van God in sy hand gevat.

21. יהוה sê vir Moshe: “Wanneer jy teruggaan na Mitzrayim, kyk dat jy al daardie wonders voor Farao doen wat Ek in jou hand gesit het en Ék sal sy wil, emosie en verstand onveranderlik maak sodat hy nie die volk sal laat gaan nie.

22. Dan moet jy vir Farao sê: ‘So sê יהוה: Yisra’el is My seun, My eersgeboreneRom 9:4-15

23. en Ek sê vir jou: Laat my seun gaan dat hy My kan dien en as jy weier om hom te laat gaan, let op, Ek sal jou seun doodmaak, jou eersgeborene’.”

24. Dit het op die pad in die herberg gebeur dat יהוה hom teëgekom het en hom wou doodmaak.

25. Toe vat Tzipporah ’n skerp klip en sny die voorhuid van haar seuns af en gooi dit voor Moshe se voete en sê: “Waarlik, jy is vir my ’n bloedbruidegom!”

26. Hy het hom toe laat staan. Toe het sy gesê: “Jy is ’n bloedbruidegom!” - as gevolg van die besnydenis.

Lees volledige hoofstuk Eksodus 4