Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 33:12-23 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

12. Moshe het vir יהוה gesê: “Dink daaraan hoe U vir my gesê het: ‘Bring hierdie volk op,’ maar U laat my nie weet wie U saam met my sal stuur nie. Tog het U gesê: ‘Ek ken jou by die naam (karakter en outoriteit) en jy het ook guns in My oë gevind.’

13. Ek vra daarom nou: as ek guns in U oë gevind het, wys my nou U paaie sodat ek ’n verbondsverhouding met U kan hê en guns vind in U oë en dink ook daaraan dat hierdie nasie U volk is.”

14. Hy antwoord: “My Teenwoordigheid sal saam met jou gaan en Ek sal vir jou rus gee.”

15. Hy sê vir Hom: “As U Teenwoordigheid nie saam met ons gaan nie, moet ons nie hiervandaan laat opgaan nie,

16. want waaraan sou dit bekend wees dat ek en U volk guns in U oë gevind het, as dit nie is deurdat U saam met ons gaan nie? So sal ons, ek en U volk, onderskeibaar wees van al die ander volke wat op die aarde is.”

17. יהוה sê vir Moshe: “Ek sal ook dit doen wat jy gesê het, want jy het guns gevind in My oë en Ek ken jou by die naam (karakter en outoriteit).”

18. Hy vra: “Laat my asseblief U grootsheid en glorie sien.”

19. Hy antwoord: “Ek sal al My goedheid by jou laat verbygaan en voor jou die Naam (Karakter en Outoriteit) van יהוה verklaar. Ek sal guns bewys aan wie Ek guns wil bewys en omgee oor wie Ek wil omgee.”Rom 9:15

20. Tog het Hy gesê: “Jy kan My gesig nie sien nie, want geen mens kan My sien en bly lewe nie.”

21. יהוה het gesê: “Let op, hier is ’n plek by My waar jy op die rots moet staan

22. en terwyl My grootsheid en glorie verbygaan, sal Ek jou in die skeur van die rots sit en jou met My hand toedek totdat Ek verbygegaan het.

23. Dan sal Ek My hand wegvat en jy sal My van agter sien, maar My gesig kan nie gesien word nie.”

Lees volledige hoofstuk Eksodus 33