Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 22:6-16 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

6. As ’n vuur uitbreek en na dorings versprei sodat ’n mied of die ongesnyde graan of die veld verteer word, moet hy wat die vuur begin het, ten volle vergoeding gee.

7. As iemand aan sy naaste geld of artikels in bewaring gee en dit word uit die man se huis gesteel, moet die dief, as hy gevind word, dubbel vergoeding gee.

8. As die dief nie gevind word nie, moet die eienaar van die huis na die regters gaan om te beslis of hy nie sy hand in sy naaste se goed gesteek het nie.

9. By alle sake van vertrouensbreuk, of dit gaan oor ’n bees, oor ’n donkie, oor ’n skaap, oor klere of oor enige iets wat verlore is, waarvan iemand sê: ‘Dit is myne!’ moet die saak van altwee voor die regters kom; die een wat die regters skuldig verklaar, moet aan sy naaste dubbel vergoeding gee.

10. As iemand aan sy naaste ’n donkie of bees of skaap of enige dier gee om vir hom op te pas en dit gaan dood of word beseer of word verwyder as plunder sonder dat iemand dit gesien het,

11. dan moet ’n eed by יהוה tussen hulle altwee wees, of hy nie sy hand na sy naaste se goed uitgesteek het nie en die eienaar moet daarmee tevrede wees en die ander hoef geen vergoeding te gee nie,

12. maar as dit van hom gesteel is, moet hy aan die eienaar vergoeding gee.

13. As dit verskeur is, moet hy dit as bewys bring; wat verskeur is, hoef hy nie te vergoed nie.

14. As ’n man van sy naaste iets leen en dit kry ’n ongeluk of gaan dood terwyl die eienaar nie by is nie, moet hy ten volle vergoeding gee.

15. As die eienaar by was, hoef hy geen vergoeding te gee nie. As dit gehuur was, is die huurgeld daarvoor.

16. As iemand ’n jongmeisie wat nie verloof is nie, verlei en by haar lê, moet hy haar vir die volle huweliksprys as sy vrou koop.

Lees volledige hoofstuk Eksodus 22