Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 14:22-31 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

22. Die seuns van Yisra’el het op droë grond deur die see getrek. Die waters was vir hulle ’n muur aan hul regter- en aan hul linkerkant.

23. Die Mitzrayiete het hulle agternagesit en hulle gevolg na die middel van die see; al Farao se perde, sy strydwaens en sy ruiters.

24. Dit het gebeur tydens die oggendwag dat יהוה, in die vuur- en wolkkolom, op die leër van die Mitzrayiete afgekyk het en die leër van die Mitzrayiete deurmekaar gemaak het.

25. Hy het die wiele van hulle strydwaens laat afval en hulle met moeite laat voortgaan. Toe sê die Mitzrayiete: “Laat ons van Yisra’el af wegvlug, want יהוה baklei vir hulle teen die Mitzrayiete.”

26. יהוה sê vir Moshe: “Steek jou hand uit oor die see dat die waters kan terugkom oor die Mitzrayiete, oor hulle strydwaens en hulle ruiters.

27. Moshe het sy hand oor die see uitgesteek en die see het teen dagbreek teruggekeer na normaal terwyl die Mitzrayiete binne-in dit gevlug het. יהוה het die Mitzrayiete binne-in die see omvergegooi.

28. Die waters het teruggevloei en die strydwaens en die ruiters van Farao se hele leërmag wat agter hulle die see ingetrek het, toegemaak. Geeneen van hulle het oorgebly nie,

29. maar die seuns van Yisra’el het op droë grond deur die see getrek en die waters was vir hulle ’n muur aan hul regter- en aan hul linkerkant.

30. So het יהוה Yisra’el dan dié dag uit die hand van die Mitzrayiete gered en Yisra’el het die Mitzrayiete dood gesien aan die kant van die see.

31. Yisra’el het die groot hand gesien wat יהוה teen die Mitzrayiete gebring het en die volk het יהוה respekvol gevrees en vertrou in יהוה en in Moshe, Sy dienskneg.

Lees volledige hoofstuk Eksodus 14