Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 5:23-33 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

23. Toe julle die stem uit die duisternis hoor terwyl die berg met vuur brand, het julle na my toe gekom, al die hoofde van julle stamme en julle oudstes

24. en gesê: ‘Let op, יהוה, ons Magtige God, het ons Sy Gemanifesteerde Teenwoordigheid en Sy Grootheid laat sien en ons het Sy stem uit die vuur gehoor. Vandag het ons gesien dat God met die mens praat en tog lewe hy nog.

25. Waarom moet ons nou sterf? Want hierdie groot vuur sal ons verteer. As ons die stem van יהוה, ons God, nog langer hoor, sal ons sterf,

26. want wie is daar van alle vlees wat die stem van die lewende God uit die vuur hoor praat het soos ons en steeds lewe?

27. Gaan ú nader en luister na alles wat יהוה, ons God, sal sê; sê u dan alles vir ons wat יהוה, ons God, vir u sal sê en ons sal luister en dit doen.’

28. יהוה het die klank van julle woorde gehoor toe julle met my gepraat het en יהוה sê vir my: ‘Ek het die klank van die woorde van hierdie volk, wat hulle met jou gepraat het, gehoor; dit is alles goed wat hulle gesê het.

29. Ag, as hulle so ’n wil, emosie en verstand in hulle gehad het om My respekvol te vrees en al My opdragte altyd te doen sodat dit met hulle en hul seuns vir ewig goed kan gaan!

30. Gaan sê vir hulle: Gaan terug na julle tente toe,

31. maar jy, bly hier by My staan sodat Ek aan jou al die opdragte, die reëls en die wette wat jy hulle moet leer, kan meedeel sodat hulle dit kan doen in die land wat Ek hulle gee, om te besit.

32. Let op dat julle daarom doen net soos יהוה, julle God, julle beveel het; julle mag nie regs of links afwyk nie.

33. Julle moet loop op al die paaie wat יהוה, julle God, julle beveel het sodat julle kan lewe en dit met julle goed kan gaan en julle jul dae kan verleng in die land wat julle sal besit.

Lees volledige hoofstuk Deuteronomium 5