Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 2:24-37 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

24. Staan op, vertrek en gaan deur die Arnonvallei. Let op, Ek het Sigon, die koning van Heshbon, die Emoriet en sy land in jou hand gegee. Begin om dit in besit te neem en begeef jou in oorlog teen hom.

25. Op hierdie dag sal Ek begin om die angs en die vrees vir jou op die volke, onder al die hemele, se gesigte te sit, wat die tyding aangaande jou sal hoor en in angs en bewing oor jou sal wees.

26. Ek het boodskappers gestuur uit die wildernis van K’demot na Sigon, die koning van Hesbon, met woorde van vrede en gesê:

27. ‘Laat my deur jou land gaan; ek sal direk op die pad deurgaan; ek sal nie regs of links uitdraai nie.

28. Jy moet kos aan my verkoop vir geld sodat ek kan eet en vir my water gee vir geld sodat ek kan drink; laat my net te voet deurtrek,

29. soos die seuns van Esav wat in Se’ir bly en die Mo’aviete wat in `Ar bly vir my gedoen het totdat ek deur die Yarden trek, in die land in wat יהוה, ons God, vir ons gee.’

30. Sigon, die koning van Heshbon, wou ons egter nie laat deurtrek nie, want יהוה, julle God, het sy gees hardkoppig gemaak en sy wil, emosie en verstand verhard sodat Hy hom in julle hand kon oorgee, soos dit vandag is.

31. יהוה het vir my gesê: ‘Let op, Ek het begin om Sigon en sy land aan jou oor te gee. Begin om dit in te neem sodat jy sy land kan besit.’

32. Sigon en al sy mense het teen ons uitgetrek, om by Yahatz te veg.

33. יהוה, ons God, het hom aan ons oorgegee sodat ons hom, sy seuns en al sy mense verslaan het.

34. Ons het in dié tyd al sy stede ingeneem en al sy manne, vroue en kinders totaal vernietig in elke stad; ons het niemand laat oorbly nie.

35. Ons het net die vee vir onsself as buit gevat en die buit van die stede wat ons ingeneem het.

36. Vanaf `Aro’er, wat op die kant van die Arnonvallei lê en vanaf die stad in die vallei, tot by Gil’ad, was daar nie een stad te sterk vir ons nie; יהוה, ons God, het alles aan ons oorgegee.

37. Alleenlik naby die land van die seuns van `Ammon het ons nie gekom nie; al langs die Yabbokrivier en die stede van die bergland en oral waar יהוה, ons God, ons beveel het.

Lees volledige hoofstuk Deuteronomium 2