Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 15:1-11 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

1. Aan die einde van elke sewe jaar moet jy ’n kwytskelding van skuld laat plaasvind.

2. Dit is hoe die kwytskelding plaasvind: elke skuldeiser moet dit wat hy aan sy naaste geleen het, kwytskeld; hy moet sy naaste en sy broer nie aanmaan nie, want dit is aangekondig as die kwytskelding van יהוה.

3. Jy mag dit van ’n buitelander aanmaan, maar wat by jou broer is, moet jou hand kwytskeld.

4. Nogtans sal daar niemand behoeftig onder julle wees nie, want יהוה sal jou ryklik seën in die land wat יהוה, jou God, jou as erfenis gee, om dit te besit.

5. Slegs as jy gehoorsaam luister na die stem van יהוה, jou God, om al die opdragte wat ek jou vandag beveel versigtig te gehoorsaam,

6. sal יהוה, jou God, jou seën soos Hy jou beloof het sodat jy aan baie nasies sal uitleen, maar self nie leen nie en jy sal oor baie nasies heers, maar oor jou sal hulle nie heers nie.

7. As daar by jou, een uit jou broers, ’n behoeftige is in een van jou dorpe, in jou land wat יהוה, jou God, jou gee, dan moet jy nie jou binneste verhard en jou hand toemaak vir jou behoeftige broer nie,

8. maar jy moet jou hand vrylik oopmaak vir hom en aan hom genoegsaam leen vir sy behoefte, waarin hy ook al tekort kom.

9. Wees versigtig dat daar in jou verstand, wil en emosie geen slegte gedagte is nie en sê: ‘Die sewende jaar, die jaar van kwytskelding, is naby’ en met ’n bose oog na jou broer kyk (suinig wees) en hom niks gee nie; dan mag hy teen jou na יהוה uitroep en dit sal ’n sonde in jou wees.

10. Jy moet gewilliglik aan hom gee en jou gedagtes moenie bedroef wees as jy aan hom gee nie, want ter wille hiervan sal יהוה, jou God, jou seën in al jou werk en in alles waar jy jou hand aan slaan,

11. want die arme sal nie ophou om in die land te wees nie; daarom gee ek jou bevel en sê: Jy moet jou hand wyd oopmaak vir jou broer, vir die arme en die behoeftige in jou land.

Lees volledige hoofstuk Deuteronomium 15