Ou Testament

Nuwe Testament

Dani'el 9:4-18 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

4. ek het gebid tot יהוה, my God en belydenis gedoen en gesê: “Ek smeek U, o יהוה, groot en gerespekteerde God, wat die verbond en onverdiende guns behou vir hulle wat Hom liefhet en Sy opdragte gehoorsaam,

5. ons het gesondig, oortredings begaan, boos gehandel, gerebelleer en van U opdragte en oordele afgedwaal.

6. Ons het ook nie geluister na U diensknegte, die profete, wat in U Naam (Karakter en Outoriteit) tot ons konings, ons prinse, ons vaders en tot die hele volk van die land gepraat het nie.

7. Aan U, יהוה, kom die onpartydige opregtheid toe, maar aan ons kom op hierdie dag beskaming toe; aan die manne van Y’hudah, die inwoners van Yerushalayim en aan die hele Yisra’el, die wat naby en die wat ver is, in al die lande waarheen U hulle verdryf het, weens hulle oortredinge wat hulle teen U begaan het.

8. יהוה, aan ons kom toe beskaming van gesig, aan ons konings, ons prinse en ons vaders omdat ons teen U gesondig het.

9. Aan יהוה-God behoort onverdiende guns en vergifnis van sondes, want ons het teen Hom gerebelleer

10. en ook nie na die stem van יהוה, ons God, geluister om te lewe volgens Sy wette wat Hy voor ons gesit het deur Sy diensknegte, die profete, nie.

11. Ja, die hele Yisra’el het U wet oortree en afgewyk en nie U stem gehoorsaam nie; daarom het U die vloek en die eed op hulle gebring wat geskryf is in die wet van Moshe, die dienskneg van God, want ons het in Sy Teenwoordigheid gesondig.

12. Hy het Sy woorde, wat Hy teen ons en ons regters, wat oor ons regeer, gespreek het, bevestig deur ’n groot boosheid oor ons te bring, want onder die ganse hemel is nie gedoen, soos oor Yerushalayim gedoen is nie.

13. Soos dit in die wet van Moshe geskryf is, het al hierdie onheil oor ons gekom en tog het ons nie voor die Teenwoordigheid van יהוה, ons God, gebid dat ons kan erken en omdraai van ons oortredinge en U waarheid kan verstaan, nie;

14. daarom het יהוה hierdie boosheid opgestook en dit oor ons gebring, want יהוה, ons God, is regverdig in al Sy dade wat Hy gedoen het, tog het ons nie na Sy stem geluister en gedoen nie.

15. Nou, o יהוה, ons God, wat U volk uit die land van Mitzrayim gebring het met ’n sterk hand en vir U ’n Karakter en Outoriteit (Naam) gemaak het, soos dit vandag is; ons het gesondig, ons het boos gehandel.

16. O יהוה, volgens die onpartydige opregtheid wat U vir ons gedoen het, laat U woede en toorn weggedraai word van U stad, Yerushalayim en van U afgesonderde berg, want as gevolg van ons sondes en die onregverdighede van ons vaders is U volk in elke land verstrooi en Yerushalayim het ’n bespotting geword vir alle volke;

17. daarom nou, o יהוה, hoor die gebed en smeking van U dienskneg en laat ter wille van U Karakter en Outoriteit (Naam), U gesig skyn oor U Afgesonderde Plek wat verlate is.

18. O, my God, draai U oor en hoor, maak U oë oop en sien ons verwoeste en verlate plekke en die stad wat volgens U Naam (Karakter en Outoriteit) uitgeroep is, want ons bring nie ons smeking voor U op grond van ons onpartydige opregtheid nie, maar op grond van U groot omgee.

Lees volledige hoofstuk Dani'el 9