Ou Testament

Nuwe Testament

2 Sh'mu'el 3:1-14 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

1. Daar was ’n lang oorlog tussen die huis van Sha’ul en die huis van Dawid en Dawid het stadigaan sterker geword, maar die huis van Sha’ul het voortdurend swakker geword.

2. Daar is in Hevron seuns vir Dawid gebore. Sy eersgeborene was Amnon, by Agino’am van Yizre’el;

3. en sy tweede was Kalev, by Avigayil, die weduwee van Naval, van Karmel en die derde was Avshalom, die seun van Ma’akhah, die dogter van Talmai, die koning van G’shur

4. en die vierde Adoniyah, die seun van Haggit en die vyfde Sh’fatyah, die seun van Avital

5. en die sesde Yitre’am, by Dawid se vrou `Eglah. Hierdie is vir Dawid in Hevron gebore.

6. Dit het gebeur terwyl daar oorlog was tussen die huis van Sha’ul en die huis van Dawid dat Avner homself sterk gemaak het in die huis van Sha’ul.

7. Sha’ul het ’n byvrou gehad wie se naam Ritzpah was, die dogter van Ayah en Ish-Boset het vir Avner gesê: “Waarom het jy by die byvrou van my vader ingegaan?”

8. Toe was Avner baie kwaad oor die woorde van Ish-Boset en het gesê: “Is ek ’n hondekop wat aan Y’hudah behoort? Vandag bewys ek guns aan die huis van Sha’ul, jou vader, aan sy broers en aan sy vriende en het jou nie in die hand van Dawid oorgegee nie en tog beskuldig jy my vandag van skuld met ’n vrou?

9. Mag God so aan Avner doen en nog meer, soos יהוה aan Dawid met ’n eed beloof het, as ek dit nie vir hom doen nie,

10. om die koningskap van die huis van Sha’ul oor te dra en die troon van Dawid vas te stel oor Yisra’el en oor Y’hudah, van Dan tot by Be’er-Sh’va.”

11. Hy kon Avner verder nie ’n woord antwoord nie omdat hy vir hom bang was.

12. Toe stuur Avner boodskappers na Dawid in sy plek om te sê: “Aan wie behoort die land? Sluit u verbond met my en let op, my hand sal met u wees om die hele Yisra’el na u toe oor te bring.”

13. Hy het gesê: “Goed, ek sal met jou ’n verbond sluit, maar een ding eis ek van jou, naamlik, jy sal nie my gesig sien as jy nie eers vir Mikhal, die dogter van Sha’ul, bring wanneer jy my kom sien nie.”

14. Dawid het boodskappers na Ish-Boshet, Sha’ul se seun gestuur, om te sê: “Gee vir my my vrou Mikhal, aan wie ek verloof was vir tweehonderd voorhuide van die F’lishtyne.”

Lees volledige hoofstuk 2 Sh'mu'el 3