Ou Testament

Nuwe Testament

2 Sh'mu'el 14:1-15 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

1. Yo’av, die seun van Tz’ruyah, het gesien dat die koning se verstand, wil en emosie na Avshalom uitgegaan het.

2. Yo’av het na T’koa gestuur en ’n wyse vrou van daar af laat haal en vir haar gesê: “Hou asseblief voor om een te wees wat rou en trek rouklere aan en moet jouself nie met olie salf nie, maar wees soos ’n vrou wat al baie dae rou oor ’n dooie.

3. Gaan dan na die koning toe en praat so met hom.” Yo’av het die woorde in haar mond gelê.

4. Nou, toe die vrou uit T’koa met die koning praat, val sy op haar gesig op die grond en lê op die grond en het gesê: “Help, o koning!”

5. Die koning het vir haar gevra: “Wat is jou moeilikheid?” Sy het geantwoord: “Waarlik, ek is ’n weduwee, want my man is dood.

6. U dienares het twee seuns gehad, maar die twee van hulle het met mekaar geveg in die veld en daar was niemand om hulle uitmekaar te maak nie sodat een die ander geslaan en hom gedood het.

7. Nou let op, die hele familie het teen u dienares opgestaan en hulle sê: ‘Gee hom wat sy broer doodgeslaan het oor sodat ons hom kan doodmaak vir die lewe van sy broer wat hy vermoor het en die erfgenaam ook vernietig.’ So wil hulle dan my kool wat oorgebly het, uitdoof, om vir my man geen naam of oorblyfsel op die aardbodem te laat bly nie.”

8. Toe sê die koning vir die vrou: “Gaan na jou huis toe en ek sal aangaande jou bevele gee.”

9. Die vrou uit T’koa sê vir die koning: “My meester, die koning; die wetsoortreding is op my en my vader se huis, maar die koning en sy troon is skuldloos.”

10. Die koning het gesê: “Wie ook al met jou praat, bring hom na my toe en hy sal nie weer aan jou raak nie.”

11. Toe sê sy: “Laat die koning asseblief יהוה, u God, onthou sodat die bloedwreker nie sal aanhou vernietig nie, anders sal hulle my seun vernietig.” Hy sê: “So waar as יהוה leef, nie een haar van jou seun sal op die grond val nie!”

12. Toe sê die vrou: “Laat asseblief u dienares ’n woord met my meester die koning praat.” Hy antwoord: “Praat.”

13. Die vrou sê: “Waarom het u dan so iets beplan teen die volk van God? Want deur hierdie woord te sê, is die koning, soos een wat skuldig is, deurdat die koning nie sy verstote een laat terugkom nie,

14. want ons sal sekerlik sterf en is soos water wat uitgegooi word op die grond, wat ’n mens nie weer kan bymekaarmaak nie. Tog vat God nie die lewe weg nie, maar beplan metodes dat die verstote een nie van Hom af weggegooi sal word nie.

15. Die rede hoekom ek hierdie boodskap vir my meester die koning gebring het, is omdat die mense my bang gemaak het. U dienares het gedink: ‘Laat ek nou met die koning praat, miskien sal die koning die versoek van sy dienares toestaan,

Lees volledige hoofstuk 2 Sh'mu'el 14