Ou Testament

Nuwe Testament

2 Sh'mu'el 11:3-13 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

3. Dawid het gestuur en navraag gedoen na die vrou en een het gesê: “Is dit nie BatSh’va, die dogter van Eli’am, die vrou van Uriyah, die Hittiet, nie?

4. Dawid het boodskappers gestuur en haar laat haal en toe sy by hom kom, het hy by haar gelê en nadat sy haar van haar onreinheid gereinig het, het sy teruggekeer na haar huis.

5. Die vrou het swanger geword, gestuur en Dawid vertel en gesê: “Ek is swanger.”

6. Toe het Dawid na Yo’av gestuur: “Stuur Uriyah, die Hittiet, na my toe.” Yo’av het vir Uriyah na Dawid toe gestuur.

7. Toe Uriyah by hom kom, vra Dawid of dit goed gaan met Yo’av, die manskappe en die stand van die oorlog.

8. Toe sê Dawid vir Uriyah: “Gaan af na jou huis toe en was jou voete.” Uriyah het uit die paleis uitgegaan en ’n geskenk van die koning is agter hom aan gestuur.

9. Uriyah het egter by die deur van die paleis geslaap saam met al die diensknegte van sy meester en nie na sy huis afgegaan nie.

10. Toe het hulle Dawid vertel en gesê: “Uriyah het nie na sy huis afgegaan nie.” Dawid vra toe vir Uriyah: “Kom jy nie van ’n reis af nie? Waarom gaan jy nie af na jou huis toe nie?”

11. Uriyah sê vir Dawid: “Die ark, Yisra’el en Y’hudah bly in tydelike skuilings en my meester Yo’av en die diensknegte van my meester kamp in die oop veld. Sou ek dan na my huis toe gaan om te eet en te drink en by my vrou te lê? So waar as u leef en lewe in u is, ek sal dit nie doen nie!”

12. Dawid sê vir Uriyah: “Bly vandag ook hier en môre sal ek jou laat gaan.” Uriyah het daardie dag en die volgende in Yerushalayim gebly.

13. Dawid het hom geroep en hy het voor hom geëet en gedrink en hy het hom dronk gemaak en met sonsondergang het hy uitgegaan om op sy slaapplek by die diensknegte van sy meester te gaan slaap, maar hy het nie afgegaan na sy huis toe nie.

Lees volledige hoofstuk 2 Sh'mu'el 11