Ou Testament

Nuwe Testament

2 Kronieke 9:13-31 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

13. Die gewig van Shlomo se inkomste aan goud in een jaar was ses honderd ses en sestig talente goud;

14. behalwe vir die belastings uit die stede en die handel wat die handelaars gebring het. Al die konings van Arabië en die goewerneurs van die land het goud en silwer vir Shlomo gebring.

15. Koning Shlomo het twee honderd groot skilde van geslaande goud gemaak; ses honderd sikkels (6,8kg) goud het in elke groot skild gegaan;

16. asook drie honderd klein skilde van geslaande goud; drie honderd sikkels goud het in elke klein skild gegaan en die koning het hulle in die huis van die L’vanon-woud gesit.

17. Verder het die koning ook ’n groot troon van ivoor gemaak en dit met suiwer goud oorgetrek.

18. Die troon het ses trappe gehad en die rand het van agteraf ingekrul met armleunings aan elke kant van die sitplek, met twee leeus wat agter die armleunings staan.

19. Twaalf leeus het weerskante op die ses trappe gestaan. Die gelyke is nooit in enige koninkryk gemaak nie.

20. Al die houers van die diens van koning Shlomo was van goud en al die voorwerpe van die koning se skatkamers was van suiwer goud; silwer is nie in die dae van Shlomo as iets gereken nie.

21. Die koning het skepe gehad wat na Tarsis gevaar het, saam met die diensknegte van Hiram; een maal elke drie jaar het die Tarsis-skepe ingekom, gelaai met goud, silwer, olifante, ape en poue.

22. Koning Shlomo het groter geword as al die konings van die aarde in rykdom en wysheid.

23. Al die konings van die aarde het die teenwoordigheid van Shlomo opgesoek om die wysheid te hoor wat God in sy binneste gegee het,

24. terwyl elkeen sy geskenk saamgebring het: silwer voorwerpe en goue voorwerpe, klere, mirre, speserye, perde en muile, ’n vaste hoeveelheid, elke jaar.

25. Shlomo het veertig duisend stalle gehad vir perde en strydwaens asook twaalf duisend ruiters, wat hy in die stede vir strydwaens en by die koning in Yerushalayim gesit het.

26. Shlomo het geheers oor al die konings vanaf die Eufraat tot by die land van die F’lishtyne en tot by die grens van Mitzrayim.1 Kon 10:27; 2 Kro 1:15

27. Koning Shlomo het silwer in Yerushalayim so volop gemaak soos klippe en die seders so volop soos wildevyebome wat in die Laagland is.

28. Hulle het vir Shlomo perde uit Mitzrayim en uit al die lande gebring.

29. Die res van die dade van Shlomo, die vroeëre sowel as die latere, is dit nie opgeskryf in die boek van die profeet Natan, in die profesie van Agiyah, die Shiloniet en in die visioene van die siener Ye’do oor Yarov’am, die seun van N’vat, nie?

30. Shlomo het vir veertig jaar lank in Yerushalayim oor die hele Yisra’el regeer.

31. Shlomo is by sy vaders neergelê en hulle het hom in die stad van sy vader, Dawid, begrawe en sy seun, Regav’am het in sy plek geheers.

Lees volledige hoofstuk 2 Kronieke 9