Ou Testament

Nuwe Testament

2 Kronieke 35:6-19 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

6. en slag die Pesag en sonder julle af en berei die verstand, wil en emosie van julle broers voor sodat hulle kan doen volgens die woord van יהוה deur die hand van Moshe.

7. Toe het Yoshiyahu vir die mense skape, lammers en boklammers gegee, alles as Pesagoffers, vir almal wat teenwoordig was, dertig duisend in getal en ook drie duisend beeste; dit was uit die koning se besittings.

8. Ook sy prinse het vrywillig aan die volk, die priesters en die Leviete gegee. Hilkiyahu, Z’kharyah en Yegi’el, leiers oor die huis van יהוה, het as Pesagoffers, twee duisend ses honderd skape en drie honderd jong bulle aan die priesters gegee.

9. Konanyah, Sh’ma’yah, sy neef en N’tan’el, Hashavyah, Ye’i’el en Yozavad, die leiers van die Leviete, het aan die Leviete as Pesagoffers vyf duisend skape en vyf honderd jong bulle gegee.

10. Die diens is voorberei en die priesters het op hul plek gaan staan en die Leviete volgens hulle afdelings.

11. Hulle het die Pesag geslag volgens die koning se bevel en die priesters het sommige van die bloed gesprinkel.

12. Die Leviete het die offers afgeslag en die brandoffers aan die afdelings van die families van die volk gegee om aan יהוה te offer, soos geskryf is in die boek van Moshe en so het hulle elke oggend gedoen.

13. Hulle het die Pesag met vuur gebraai volgens die voorskrif, maar die ander afgesonderde gawes het hulle in potte en in kanne en in skottels gekook en gou onder al die mense verdeel.

14. Agterna, toe die Leviete klaar was, het hulle vir hulleself en vir die priesters voorberei, want die priesters, die seuns van Aharon, was besig om die brandoffer en die vetstukke te offer; toe het die Leviete vir hulleself en die priesters wat bedien het, voorberei.

15. Die sangers, die seuns van Asaf, was op hulle plek volgens die bevel van Dawid en van Heman en Y’dutun, die profeet van die koning en die poortwagters het by elke poort gebly; hulle mag nie hulle diens verlaat het nie, maar hulle broers, die Leviete, het hulle bedien.

16. Die hele diens van יהוה is op dieselfde dag voorberei, om die Pesag te hou en brandoffers te bring op die altaar van יהוה volgens die opdrag van koning Yoshiyahu.

17. Die seuns van Yisra’el wat teenwoordig was, het die Pesag gehou in daardie tyd en ook die Fees van die Ongesuurde Brode vir sewe dae lank.

18. Daar was nie so ’n Pesag gehou in Yisra’el van die dae van Sh’mu’el, die profeet, af nie en ook het geen koning van Yisra’el so ’n Pesag gehou soos wat Yoshiyahu, die priesters, die Leviete, die hele Y’hudah en Yisra’el wat teenwoordig was in Yerushalayim, gehou het nie.

19. Hierdie Pesag is in die agttiende jaar van die regering van Yoshiyahu gehou.

Lees volledige hoofstuk 2 Kronieke 35