Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 6:18-33 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

18. Toe hulle na hom toe afkom, het Elisha tot יהוה gebid en gesê: “Ek bid, slaan hierdie mense met blindheid.” Hy het hulle volgens die woord van Elisha met blindheid geslaan.

19. Toe sê Elisha vir hulle: “Dit is nie die pad nie en ook nie die stad nie; volg my en ek sal julle na die man toe bring wat julle soek.” Hy het hulle na Shomron gebring.

20. Toe hulle Shomron ingekom het, sê Elisha: “יהוה, maak hulle oë oop sodat hulle kan sien.” יהוה het hulle oë oopgemaak en hulle het gesien en let op, hulle was binne-in Shomron!

21. Toe hy hulle sien, vra die koning van Yisra’el vir Elisha: “My vader, moet ek hulle doodmaak? Moet ek hulle doodmaak?”

22. Hy antwoord: “U mag nie doodmaak nie. Sou u hulle doodmaak wat u met u swaard en u boog as gevangenes weggevoer het? Sit aan hulle brood en water voor sodat hulle kan eet en drink en na hulle meester toe gaan.”

23. Hy het ’n groot fees vir hulle voorberei en nadat hulle geëet en gedrink het, stuur hy hulle weg en hulle het na hul meester gegaan. Die plunderende bendes van die Arameërs het nie weer in die land van Yisra’el ingekom nie.

24. Dit het later gebeur dat Ben-Hadad, die koning van Aram, sy hele leër bymekaargemaak en opgegaan en Shomron beleër het.Deut 28:52,53

25. Daar was ’n groot hongersnood in Shomron en let op, hulle het dit beleër totdat ’n donkiekop verkoop het vir tagtig sikkels silwer en ’n kwart-kab duiwemis vir vyf sikkels silwer.

26. Terwyl die koning op die muur verbygaan, roep ’n vrou uit na hom en sê: “Help, my meester, o koning!”

27. Hy antwoord: “As יהוה jou nie help nie, waarvandaan sal ek jou help? Van die dorsvloer of van die parskuip?”

28. Die koning sê vir haar: “Wat is jou probleem?” Sy antwoord: “Hierdie vrou het vir my gesê: ‘Gee jou seun sodat ons hom vandag kan eet en ons sal môre my seun eet.’Deut 28:53

29. Ons het dus my seun gekook en hom geëet en ek het die volgende dag vir haar gesê: ‘Gee jou seun sodat ons hom kan eet,’ maar sy het haar seun weggesteek.”

30. Toe die koning die woorde van die vrou hoor, skeur hy sy klere, (hy het op die muur verbygeloop) en die mense het gekyk en let op, hy het ’n roukleed onder aan, teen sy liggaam.

31. Toe het hy gesê: “Mag God so aan my doen en meer nog, as die kop van Elisha, die seun van Shafat, vandag op hom sal bly.”

32. Elisha het in sy huis gesit en die oudstes het by hom gesit. Die koning het ’n man vanuit sy teenwoordigheid gestuur, maar voordat die boodskapper by hom kom, sê hy vir die oudstes: “Sien julle hoe hierdie seun van ’n moordenaar gestuur het om my kop af te kap? Kyk, wanneer die boodskapper kom, sluit die deur en hou die deur teen hom toe. Is die klank van sy meester se voetstappe nie agter hom nie?”

33. Terwyl hy nog met hulle praat, let op, kom die boodskapper af na hom toe en die koning sê: “Let op, hierdie boosheid kom van יהוה; hoekom sou ek langer op יהוה wag?”

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 6