Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 20:1-13 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

1. In dié dae het Hizkiyahu dodelik siek geword en Yesha’yahu, die profeet, die seun van Amotz, het by hom gekom en vir hom gesê: “So sê יהוה: ‘Kry jou huis in orde, want jy sal sterf en nie lewe nie.’”

2. Toe het hy sy gesig na die muur gedraai en gebid tot יהוה en gesê:

3. “Onthou nou, יהוה, ek smeek U, hoe ek voor U Teenwoordigheid in waarheid en met ’n volmaakte verstand, wil en emosie geloop het en gedoen het wat goed is in u oë.” Hizkiyahu het bitterlik gehuil.

4. Voordat Yesha’yahu by die middelste hof uitgegaan het, het die woord van יהוה tot hom gekom en gesê:

5. “Gaan terug en sê vir Hizkiyahu, die leier van My volk: “So sê יהוה, die God van jou vader, Dawid: ‘Ek het jou gebed gehoor, Ek het jou trane gesien; let op, Ek sal jou genees. Op die derde dag sal jy opgaan na die huis van יהוה.

6. Ek sal vyftien jaar by jou lewe byvoeg en jou en hierdie stad uit die hand van die koning van Ashur bevry en Ek sal hierdie stad verdedig ter wille van Myself en vir My kneg, Dawid.’”

7. Toe sê Yesha’yahu: “Vat ’n vyekoek.” Hulle het dit gevat en op die sweer gesit en hy het herstel.

8. Hizkiyahu het vir Yesha’yahu gevra: “Wat sal die teken wees dat יהוה my sal genees en dat ek op die derde dag sal opgaan na die huis van יהוה?”

9. Yesha’yahu antwoord: “Dit sal vir jou die teken wees vanaf יהוה dat יהוה sal doen wat Hy gesê het: moet die skaduwee tien grade vorentoe gaan, of moet dit tien grade terug gaan?”

10. Hizkiyahu antwoord: “Dit is maklik vir die skaduwee om tien grade af te gaan; nee, maar laat die skaduwee terugdraai, tien grade agtertoe.”

11. Yesha’yahu, die profeet, het uitgeroep na יהוה en Hy het die skaduwee op die trappe tien grade teruggebring waarlangs dit afgegaan het op die trappe van Agaz se sonnewyser.

12. In daardie tyd het B’rodakh-Bal’adan, ’n seun van Bal’adan, koning van Bavel, briewe en ’n geskenk vir Hizkiyahu gestuur, want hy het gehoor dat Hizkiyahu siek was.

13. Hizkiyahu het na hulle geluister en vir hulle sy hele skathuis gewys, die silwer, die goud, die speserye, die kosbare olie, sy wapenhuis en alles wat in sy skatkamers te vinde was. Daar was niks in sy huis of in sy hele ryk wat Hizkiyahu nie vir hulle gewys het nie.

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 20