Ou Testament

Nuwe Testament

1 Sh'mu'el 28:10-25 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

10. Sha’ul het vir haar by יהוה gesweer en gesê: “So waar as יהוה leef, geen straf sal oor jou kom hiervoor nie!”

11. Toe vra die vrou: “Wie moet ek vir jou laat opkom?” Hy het gesê: “Laat Sh’mu’el vir my opkom.”

12. Toe die vrou Sh’mu’el sien, skreeu sy hardop en die vrou het met Sha’ul gepraat en gesê: “Waarom het u my bedrieg? Want u is Sha’ul.”

13. Die koning antwoord haar: “Moenie bang wees nie, maar wat sien jy?” Die vrou sê vir Sha’ul: “Ek sien ’n goddelike wese uit die aarde opkom.”

14. Hy vra haar toe: “Hoe is sy voorkoms?” Sy antwoord: “’n Ou man kom op met ’n mantel om.” Sha’ul het geweet dat dit Sh’mu’el was en hy buig met sy gesig na die grond toe en betoon respek.

15. Toe sê Sh’mu’el vir Sha’ul: “Waarom steur jy my deur my te laat opkom?” Sha’ul antwoord: “Ek is baie benoud, want die F’lishtyne voer oorlog teen my en God het van my af weggegaan en antwoord my nie meer nie, nie deur profete nie en ook nie deur drome nie; daarom het ek u geroep om aan my bekend te maak wat ek moet doen.”

16. Sh’mu’el het gesê: “Waarom vra jy my dan, aangesien יהוה van jou af weggegaan het en jou Teëstander geword het?

17. יהוה het gedoen soos wat Hy deur my gepraat het, want יהוה het die koningskap uit jou hand geskeur en dit vir jou naaste, vir Dawid, gegee.

18. Omdat jy nie na die stem van יהוה geluister en Sy intense wraak teen `Amalek uitgevoer het nie; daarom het יהוה vandag hierdie ding aan jou gedoen.

19. Meer nog sal יהוה Yisra’el ook saam met jou in die hand van die F’lishtyne gee; daarom sal jy en jou seuns môre by my wees. Inderdaad sal יהוה die leër van Yisra’el in die hand van die F’lishtyne gee.”

20. Sha’ul het dadelik in sy volle lengte op die grond geval en was baie bang as gevolg van die woorde van Sh’mu’el; daar was ook geen krag in hom nie, want hy het die hele dag en die hele nag geen kos geëet nie.

21. Die vrou het na Sha’ul toe gekom en gesien dat hy baie beangs was en sy sê vir hom: “Let op, u dienares het u gehoorsaam en my lewe gewaag en na u woorde geluister wat u met my gepraat het.

22. Luister nou ook na die stem van u dienares en laat ek vir u ’n stukkie brood voorsit dat u kan eet en krag hê wanneer u gaan.”

23. Hy het egter geweier en gesê: “Ek sal nie eet nie.” Sy diensknegte en die vrou het egter by hom aangedring en hy het na hulle geluister, opgestaan van die grond af en op die bed gaan sit.

24. Die vrou het ’n vetgemaakte kalf in die huis gehad en dit gou geslag en sy het meel gevat, dit geknie en ongesuurde brood daarvan gebak.

25. Sy het dit voor Sha’ul en sy diensknegte gebring en hulle het geëet. Toe het hulle opgestaan en daardie nag weggegaan.

Lees volledige hoofstuk 1 Sh'mu'el 28