Ou Testament

Nuwe Testament

1 Sh'mu'el 23:13-29 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

13. Toe het Dawid en sy manne, omtrent ses honderd, opgestaan en vanaf Ke’ilah weggegaan en gegaan waar hulle ook al kon. Toe dit vir Sha’ul vertel is dat Dawid uit Ke’ilah ontsnap het, het hy die agtervolging gestop.

14. Dawid het in vestings in die wildernis gebly en in ’n berg in die wildernis van Zif vertoef. Sha’ul het hom elke dag gesoek, maar God het hom nie in sy hand oorgegee nie.

15. Dawid het bewus geword daarvan dat Sha’ul uitgekom het om sy lewe te soek terwyl Dawid in die wildernis van Zif, by Horesh, was.

16. Y’honatan, Sha’ul se seun, het opgestaan en na Dawid by Horesh gegaan en hom bemoedig in God.

17. So het hy vir hom gesê: “Moenie bang wees nie, want die hand van Sha’ul, my vader, sal jou nie vind nie en jy sal koning wees oor Yisra’el en ek sal onder jou wees en my vader, Sha’ul, weet dit ook.

18. Toe sluit hulle twee ’n verbond voor die Teenwoordigheid van יהוה en Dawid het in Horesh gebly terwyl Y’honatan na sy huis toe gegaan het.

19. Toe het daar Zifiete opgegaan na Sha’ul by Giv’ah en gesê: “Kruip Dawid nie by ons weg, by die vestings by Horesh, op die heuwel van Hakhilah, wat suid van die wildernis lê nie?

20. Nou dan, o koning, kom af om volgens al die begeerte van u verstand, wil en emosie te doen en ons deel sal wees om hom in die hand van die koning uit te lewer.”

21. Sha’ul het gesê: “Mag julle geseënd wees deur יהוה omdat julle vir my omgegee het.

22. Gaan nou, maak doodseker en ondersoek en bekyk die plek waar sy blyplek is, wie hom daar gesien het, want ek word vertel dat hy baie listig is.

23. Kyk en leer van al die wegkruipplekke waar hy homself wegsteek en kom na my toe terug met sekerheid en ek sal saam met julle gaan en as hy in die land is, sal ek hom opspoor onder al die duisende van Y’hudah.”

24. Toe het hulle opgestaan en voor Sha’ul uit na Zif gegaan. Dawid en sy manne was in die wildernis van Ma’on, in die vlakte (`Aravah) suid van Yeshimon.

25. Toe Sha’ul en sy manne gaan om hom te soek, het hulle Dawid vertel en hy het afgegaan na die rots en in die wildernis van Ma’on gebly. Toe Sha’ul dit hoor, het hy Dawid agtervolg in die wildernis van Ma’on.

26. Sha’ul het aan een kant van die berg getrek en Dawid en sy manne aan die ander kant van die berg. Dawid het gou gemaak om van Sha’ul af weg te kom, want Sha’ul en sy manne het Dawid en sy manne omsingel om hulle te vang.

27. ’n Boodskapper kom egter by Sha’ul en sê: “Maak gou en kom, want die F’lishtyne het ’n inval op die land gedoen.”

28. Sha’ul het teruggedraai daarvan om Dawid agterna te jaag en gegaan om die F’lishtyne te ontmoet; daarom noem hulle daardie plek die Rots van Ontsnapping. (Sela-Hamaglekot)

29. Dawid het opgegaan van daar af en in die vestings van `Ein-Gedi gebly.

Lees volledige hoofstuk 1 Sh'mu'el 23