Ou Testament

Nuwe Testament

1 Sh'mu'el 19:9-18 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

9. Daar was ’n bose gees vanaf voor יהוה op Sha’ul terwyl hy in sy huis sit met sy spies in sy hand en Dawid die harp met sy hand speel.

10. Sha’ul het probeer om Dawid met die spies teen die muur vas te pen, maar hy het uit Sha’ul se teenwoordigheid weggeglip sodat hy die spies in die muur ingegooi het. Dawid het gevlug en daardie nag ontsnap.

11. Toe het Sha’ul boodskappers na Dawid se huis gestuur om hom te bewaak om hom in die oggend dood te maak, maar Dawid se vrou, Mikhal, het hom vertel en gesê: “As jy nie vannag jou lewe red nie, sal jy môre doodgemaak word.”

12. Mikhal het Dawid deur ’n venster laat afsak en hy het uitgegaan, gevlug en ontsnap.

13. Mikhal het die huishoudelike afgod gevat, dit op die bed neergelê, ’n kussing van bokhaar by sy kop gesit en dit bedek met klere.

14. Toe Sha’ul boodskappers stuur om Dawid te vat, het sy gesê: “Hy is siek.”

15. Toe stuur Sha’ul die boodskappers om Dawid te sien met die opdrag: “Bring hom na my toe op sy bed sodat ek hom kan doodmaak.”

16. Toe die boodskappers inkom, let op, was die huishoudelike afgod op die bed en ’n kussing van bokhaar by sy kop!

17. Sha’ul sê vir Mikhal: “Waarom het jy my so bedrieg en my vyand laat gaan sodat hy ontsnap het?” Mikhal het Sha’ul geantwoord: “Hy het vir my gesê: ‘Laat my gaan, of ek maak jou dood.’”

18. Dawid het gevlug en ontsnap en by Sh’mu’el in Ramah gekom en hom alles vertel wat Sha’ul aan hom gedoen het. Hy en Sh’mu’el het in die blyplekke van die profete gaan bly.

Lees volledige hoofstuk 1 Sh'mu'el 19