Ou Testament

Nuwe Testament

1 Sh'mu'el 14:15-24 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

15. Toe kom daar ’n bewing in die kamp, in die veld en onder al die manne. Selfs die garnisoen en die roofkommando het gebewe en die aarde het gebewe sodat dit ’n groot bewing geword het.

16. Sha’ul se wagte in Giv’ah-Binyamin het gekyk en let op, die menigte smelt weg en hulle gaan heen en weer.

17. Sha’ul sê vir die manne wat by hom was: “Tel nou en kyk wie van ons af weggegaan het.” Toe hulle getel het, let op, was Y’honatan en sy wapendraer nie daar nie.

18. Toe sê Sha’ul vir Agiyah: “Bring die ark van God hier.” Die ark van God was in dié tyd by die seuns van Yisra’el.

19. Terwyl Sha’ul met die priester gepraat het, het die verwarring in die kamp van die F’lishtyne aangehou en groter geword. Sha’ul sê vir die priester: “Trek jou hand terug!”

20. Toe het Sha’ul en al die manne wat by hom was, bymekaargekom en hulle het by die geveg aangekom en let op, elkeen se swaard was teen die ander en daar was ’n baie groot verwarring.

21. Die Hebreërs wat vroeër saam met die F’lishtyne was, wat oral saam met hulle in die kamp gegaan het, selfs hulle het ook omgedraai om saam met die Yisra’eliete wat saam met Sha’ul en Y’honatan was, te wees.

22. Toe al die manne van Yisra’el, wat hulself in die bergland van Efrayim weggesteek het, hoor dat die F’lishtyne gevlug het, het selfs ook hulle hul in die geveg agternagesit.

23. So het יהוה Yisra’el op dié dag bevry en die geveg het verby Beit-Aven versprei.

24. Die manne van Yisra’el is hard gedryf op daardie dag, want Sha’ul het die manne onder eed geplaas en gesê: “Vervloek is die man wat iets eet voor die aand en totdat ek myself op my vyande gewreek het.” Nie een van die manne het aan iets geproe nie.

Lees volledige hoofstuk 1 Sh'mu'el 14