Ou Testament

Nuwe Testament

1 Kronieke 17:10-23 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

10. Vandat Ek jou oor My volk Yisra’el aangestel het, het Ek jou rus gegee van al jou vyande. Verder het יהוה aan jou verklaar dat die koninkryk vir ewig vasgestel is.

11. Dit sal gebeur wanneer jou dae volledig is en jy by jou vaders is, dat Ek jou nageslag sal opwek wat uit jou liggaam kom en hom in jou koninkryk bevestig.

12. Hy sal vir My Naam (Karakter en Outoriteit) ’n huis bou en Ek sal die troon van sy koninkryk vir ewig bevestig.

13. Ék sal sy Vader wees en hy sal My seun wees en Ek sal nie My liefdevolle omgee van hom af wegvat, soos ek dit van Sha’ul af weggevat het, wat voor jou was, nie,Heb 1:2-5

14. maar Ek sal hom ’n heerser maak in My huis en in My koninkryk vir ewig en sy troon sal vir ewig vasgestel word.”

15. Volgens al hierdie woorde en volgens hierdie visioen, so het Natan met Dawid gepraat.

16. Koning Dawid het gekom en in die Teenwoordigheid van יהוה gaan sit en gesê: “Wie is ek in U Teenwoordigheid, יהוה-God en wat is my huis, dat U my tot hierdie verhewe plek gebring het?

17. Tog was dit iets kleins in U oë, o יהוה-God sodat U ook aangaande die huis van U dienskneg gepraat het tot ver in die toekoms, want almal wat U dien met hulle hele verstand, wil en emosie, bring U uit die duisternis in die lig, o יהוה-God!

18. Wat kan Dawid nog roem om in U Teenwoordigheid te praat, want die werke van U dienskneg is bekend, o יהוה-God?

19. U weet wat in die verstand, wil en emosie van U dienskneg is, dat U vir hom al hierdie grootheid gedoen het deur U dienskneg groot te maak;

20. daarom weet ek, o יהוה-God, dat daar niemand is soos U nie en dat daar geen God is behalwe U nie, volgens alles wat ons met ons ore gehoor het.

21. Watter ander nasie op aarde is verenig soos U volk, Yisra’el? U het Uself vanaf die hemele openbaar en hulle gered en om hulle ontwil het U groot en wonderbaarlike wonders gedoen en ernstige plae op die Mitzrayiete gebring totdat U hulle onder hulle uitgebring het,

22. want U het U volk Yisra’el U ewige volk gemaak en U, o יהוה, het hulle God geword.

23. Laat daarom nou, o יהוה, die woord wat U aangaande U kneg en sy huis gepraat het, vasgestel word vir ewig en doen soos U gesê het

Lees volledige hoofstuk 1 Kronieke 17