Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 8:16-32 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

16. ‘Van die dag af dat Ek My volk Yisra’el van Mitzrayim af gebring het, het Ek nie ’n stad gekies uit al die stamme van Yisra’el om ’n huis in te bou sodat My Karakter en Outoriteit (Naam) daar sou wees nie, maar Ek het vir Dawid gekies om oor My volk Yisra’el te wees.’

17. Dit was in die verstand, wil en emosie van my vader, Dawid, om ’n huis te bou vir die Karakter en Outoriteit (Naam) van יהוה, die God van Yisra’el,

18. maar יהוה het vir my vader, Dawid, gesê: ‘Omdat dit in jou verstand, wil en emosie was om vir My Karakter en Outoriteit (Naam) ’n huis te bou, het jy goed gedoen deurdat dit in jou verstand, wil en emosie was.

19. Nogtans sal jy nie die huis bou nie, maar jou seun wat vir jou gebore sal word, hy sal vir My Karakter en Outoriteit (Naam) die huis bou.’

20. Nou het יהוה Sy Woord vervul wat Hy gesê het, want ek het opgestaan in die plek van my vader, Dawid en ek sit op die troon van Yisra’el soos יהוה belowe het en ek het die huis gebou vir die Karakter en Outoriteit (Naam) van יהוה, die God van Yisra’el.

21. Daar het ek ’n plek gemaak vir die ark, waarin die verbond van יהוה is, wat Hy met ons vaders gesluit het toe Hy hulle uit die land van Mitzrayim uitgebring het.”

22. Toe het Shlomo voor die altaar van יהוה gaan staan, voor die hele vergadering van Yisra’el en sy hande uitgesprei na die hemel

23. en hy het gesê: “יהוה, die God van Yisra’el, daar is geen God soos U in die hemel daarbo of op die aarde hier onder nie, wat die verbond hou en liefdevolle omgee wys aan U diensknegte wat voor U loop met hulle hele verstand, wil en emosie,

24. wat vir U kneg, my vader Dawid, nagekom het wat U aan hom belowe het; inderdaad, U het met U mond gepraat en met U hand volbring, soos dit op hierdie dag is;

25. daarom, יהוה, God van Yisra’el, hou ook die belofte wat U aan U kneg, my vader Dawid, gemaak het, deur te sê: ‘Daar sal vir jou nooit ’n man ontbreek wat op die troon van Yisra’el sal sit nie, as jou seuns net hulle pad in ag neem om voor My Teenwoordigheid te loop soos jy voor My Teenwoordigheid geloop het.’

26. Nou, daarom, o God van Yisra’el, ek bid, laat U woord bevestig word wat U gepraat het tot U kneg, my vader, Dawid.

27. Sal God werklik op die aarde bly? Let op, die hemel en die hoogste hemele kan U nie bevat nie, hoeveel minder hierdie huis wat ek gebou het?

28. Tog, gee aandag aan die gebed van U dienskneg en tot sy smeking, יהוה, my God, om te luister na die geroep en die gebed wat U dienskneg vandag voor U bid;

29. dat U oë oop mag wees na hierdie huis, nag en dag, na die plek waarvan U gesê het: ‘My Karakter en Outoriteit (Naam) sal daar wees,’ om te luister na die gebed wat U dienskneg na hierdie plek toe sal bid.

30. Luister na die smeking van U dienskneg en van U volk Yisra’el wanneer hulle na hierdie plek toe bid; luister in die hemel, U blyplek; hoor en vergewe.

31. As ’n mens teen sy naaste sondig en gedwing word om ’n eed te neem en hy voor U altaar in hierdie huis ’n eed neem,

32. hoor dan in die hemel en tree op en oordeel U diensknegte, veroordeel die wettelose deur sy optrede op sy eie kop te bring en verklaar die onpartydig opregte onskuldig deur vir hom te gee volgens sy onpartydige opregtheid.

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 8