Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 7:36-51 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

36. Hy het op die plate van sy kante en op sy rant gérubs, leeus en palmbome graveer volgens die ruimte op elkeen, met kransies rondom.

37. So het hy die tien staanders gemaak: almal het een gietwerk gehad, een maat en een vorm.

38. Hy het tien waskomme van koper gemaak; elke kom het veertig bat gehou (220 liter) en elke kom was vier el; een kom was op elke bak van die tien staanders.

39. Toe het hy die staanders opgestel: vyf aan die regterkant van die huis en vyf aan die linkerkant van die huis en hy het die see van gegote metaal aan die regterkant van die huis opgestel, na die suide toe.

40. Hiram het die potte en die grawe en die komme gemaak. So het Hiram dan al die werk voltooi wat hy vir koning Shlomo in die huis van יהוה gedoen het:

41. die twee pilare met die twee balle van die pilaarkoppe wat op die top van die twee pilare was en die twee netwerke om die twee balle van die pilaarkoppe wat op die top van die pilare is, te oordek

42. en die vier honderd granate vir die twee netwerke; twee rye granate vir elke netwerk, om die twee balle van die pilaarkoppe bo-op die pilare te oordek

43. en die tien staanders met die tien waskomme op die staanders

44. en die een see en die twaalf beeste onder die see

45. en die potte, die grawe en die komme; al hierdie voorwerpe wat Hiram vir koning Shlomo in die huis van יהוה gemaak het, was van gepoleerde koper.

46. In die vlakte van die Yarden het die koning dit gegiet; in die kleigrond tussen Sukkot en Tzartan.

47. Shlomo het al die voorwerpe ongeweeg gelaat omdat daar te veel was; die gewig van die koper kon nie bereken word nie.

48. Shlomo het al die voorwerpe wat in die huis van יהוה was, gemaak: die goue altaar, die goue tafel waarop die brode van die Teenwoordigheid moes lê

49. en die kandelare voor die binnevertrek van suiwer goud, vyf aan die regterkant en vyf aan die linkerkant en die blomme, die lampe en die tange, van goud

50. en die bekers, die snuiters, die komme, die lepels, die vuurpanne, van suiwer goud en die skarniere van die deure van die binnevertrek, van die Mees Afgesonderde Plek en die deure van die huis, van die hoofvertrek, van goud.

51. So is al die werk wat koning Shlomo aan die huis van יהוה gemaak het, voltooi. Shlomo het die dinge wat deur sy vader Dawid afgesonder is, ingebring; die silwer, die goud en die gereedskap het hy in die skatkamers van die huis van יהוה gesit.

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 7