Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 7:13-25 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

13. Koning Shlomo het gestuur en Hiram uit Tzor gebring.

14. Hy was die seun van ’n weduwee uit die stam van Naftali en sy vader was ’n man van Tzor, ’n kopersmid en hy was vol wysheid, begrip en bekwaamheid om enige werk in koper te maak. Hy het by koning Shlomo gekom en al sy werk gedoen.

15. Hy het die twee pilare van koper gevorm; agttien el was die hoogte van een pilaar en ’n lyn van twaalf el kon die omtrek van beide meet.

16. Hy het ook twee pilaarkoppe gemaak van gegote koper om op die toppe van die pilare te sit; vyf el was die hoogte van die een pilaarkop en vyf el was die hoogte van die ander pilaarkop.

17. Daar was nette van netwerk en gevlegte stringe van kettingwerk vir die pilaarkoppe wat op die top van die pilare was; sewe vir die een pilaarkop en sewe vir die ander pilaarkop.

18. So het hy die pilare gemaak en twee rye vlegwerk rondom die een, om die pilaarkoppe, wat bo-op die granate was, toe te maak en net so het hy vir die ander pilaarkop gemaak.

19. Die pilaarkoppe bo-op die pilare in die portaal was vier el, ’n lelieontwerp.

20. Daar was pilaarkoppe op die twee pilare, bo-aan en naby die geronde projeksie, langs die netwerk en die granate was twee honderd, in rye rondom beide pilaarkoppe.

21. So het hy die pilare opgerig by die portaal van die hoofvertrek en hy het die regterpilaar opgerig en dit Yakhin genoem en hy het die linkerpilaar opgerig en dit Bo’az genoem.

22. Bo-op die pilare was lelieontwerpe. Die werk aan die pilare is voltooi.

23. Nou het hy die see gemaak van gietwerk; van rand tot rand was dit tien el, rond van vorm en die hoogte daarvan was vyf el en dertig el in omtrek.

24. Onder sy rand het kalbassies dit rondom omring; tien op die el het hulle die see heeltemal omring: die kalbasse was in twee rye, gegiet saam met die res.

25. Dit het gestaan op twaalf beeste: drie kyk na die noorde, drie kyk na die weste, drie kyk na die suide en drie kyk na die ooste toe en die see was bo-op hulle en hulle agterkante was na binne gedraai.

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 7