Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 4:17-31 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

17. Y’hoshafat, die seun van Paruag, in Yissakhar;

18. Shim’i, die seun van Ela, in Binyamin;

19. Gever, die seun van Uri, in die land Gil’ad, die land van Sigon, die koning van die Emoriete en van `Og, die koning van Bashan; hy was die enigste bestuurder in die land.

20. Y’hudah en Yisra’el was so talryk soos die sand wat aan die seestrand in oorvloed is; hulle het geëet en gedrink en hulle verheug.

21. Shlomo het geheers oor al die koninkryke vanaf die Rivier (Eufraat) tot by die land van die F’lishtyne en tot by die grens van Mitzrayim; hulle het belasting gebring en Shlomo gedien al die dae van sy lewe.

22. Shlomo se voorsiening vir een dag was dertig mates (6600 liter) fyn meel en sestig mates (13200 liter) meel;

23. tien vetgemaakte beeste, twintig veldbeeste, ’n honderd stuks kleinvee, behalwe die takbokke, gaselle, reebokke en vetgemaakte pluimvee,

24. want hy het outoriteit gehad oor alles wes van die Rivier, vanaf Tifsag tot by Gazah, oor al die konings wes van die Rivier en hy het vrede gehad aan alle kante rondom hom.Lev 26:5

25. Y’hudah en Yisra’el het in veiligheid gebly, elke man onder sy wingerdstok en sy vyeboom, van Dan tot by Be’er-Sh’va, al die dae van Shlomo.

26. Shlomo het veertig duisend stalle met perde gehad vir sy strydwaens en twaalf duisend perderuiters.

27. Daardie bestuurders het elkeen in sy maand vir koning Shlomo voorsien en almal wat na koning Shlomo se tafel toe kom; hulle het niks laat kortkom nie.

28. Hulle het ook die gars, die strooi vir die perde en die renperde gebring na die plek waar dit moes wees, elkeen volgens sy kwota.

29. God het aan Shlomo wysheid gegee, ’n baie groot onderskeiding en ’n breedte van insig soos die sand wat op die seestrand is.

30. Shlomo se wysheid was meer as die wysheid van al die seuns van die Ooste en as al die wysheid van Mitzrayim,

31. want hy was wyser as al die mense, as Eitan, die Ezragiet, Heiman, Kalkol en Darda, die seuns van Magol en sy beroemdheid was bekend onder al die nasies rondom.

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 4