Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 19:4-17 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

4. Hyself het egter ’n dagreis ver die wildernis ingegaan en daar onder ’n jeneverbos gaan sit en gewens dat hy mag sterf en hy het gesê: “Dit is genoeg; יהוה, vat nou my lewe, want ek is nie beter as my vaders nie.”

5. Hy het gaan lê en slaap onder ’n jeneverbos en let op, daar was ’n engel wat hom aangeraak het en vir hom sê: “Staan op, eet!”

6. Toe hy kyk, let op, was daar ’n broodkoek, op warm klippe gebak en ’n kruik water by sy kop. Hy het geëet en gedrink en weer gaan lê.

7. Die engel van יהוה het weer vir die tweede maal gekom en hom aangeraak en gesê: “Staan op, eet, want die pad is te veel vir jou.”

8. Hy het opgestaan, geëet en gedrink en deur die krag van daardie kos veertig dae en veertig nagte lank gereis tot by Horev, die berg van God.

9. Toe kom hy daar by ’n grot en het daar gebly en let op, die woord van יהוה het tot hom gekom en vir hom gesê: “Wat maak jy hier, Eliyahu?”

10. Hy antwoord: “Ek was baie ywerig vir יהוה, die God van die leërskare, want die seuns van Yisra’el het U verbond verlaat, U altare afgebreek en U profete met die swaard doodgemaak en ek alleen is oor en hulle soek my lewe om dit weg te vat.”

11. Hy sê: “Gaan en staan op die berg voor die Teenwoordigheid van יהוה.” Let op, יהוה het verbygegaan. ’n Groot en sterk wind het die berge geskeur en die rotse in stukke gebreek voor יהוה; יהוה was nie in die wind nie; ná die wind, ’n aardbewing; יהוה was nie in die aardbewing nie;

12. ná die aardbewing, ’n vuur; יהוה was nie in die vuur nie; ná die vuur, die klank van ’n sagte gewaai.

13. Toe Eliyahu dit hoor, het hy sy gesig met sy mantel toegedraai en uitgegaan en by die ingang van die grot gaan staan. Let op, daar kom ’n stem na hom toe wat sê: “Wat maak jy hier, Eliyahu?”

14. Toe antwoord hy: “Ek was baie ywerig vir יהוה, die God van die leërskare, want die seuns van Yisra’el het U verbond verlaat, U altare afgebreek en U profete met die swaard doodgemaak en ek alleen is oor en hulle soek my lewe om dit weg te vat.”2 Kon 8:10-13

15. יהוה sê vir hom: “Gaan terug op jou pad na die wildernis van Dammesek en wanneer jy aangekom het, moet jy Haza’el koning oor Aram salf;2 Kon 9:2

16. Yehu, die seun van Nimshi, moet jy salf as koning oor Yisra’el; Elisha, die seun van Shafat, vanaf Avel-M’golah, moet jy salf as profeet in jou plek.

17. Dit sal gebeur: die een wat van die swaard van Haza’el ontsnap, sal Yehu doodmaak en die een wat van die swaard van Yehu ontsnap, sal Elisha doodmaak.

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 19