Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 16:17-30 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

17. Toe het `Omri en die hele Yisra’el saam met hom opgegaan vanaf Gibb’ton en Tirtzah beleër.

18. Toe Zimri sien dat die stad ingeneem is, het hy in die vesting van die koning se huis ingegaan en die huis van die koning oor hom aan die brand gesteek en hy is dood,

19. as gevolg van sy sondes wat hy gesondig het deur te doen wat boos was in die oë van יהוה, deur te loop op die pad van Yarov’am en in sy sonde wat hy gedoen het om Yisra’el te laat sondig.

20. Die res van die dade van Zimri en sy sameswering wat hy gehad het, is dit nie opgeskryf in ‘Die Boek van die Kronieke van die konings van Yisra’el’ nie?

21. Toe is die volk van Yisra’el verdeel in twee dele: die helfte van die mense het vir Tivni, die seun van Ginat, gevolg om hom koning te maak; die ander helfte het vir `Omri gevolg.

22. Die mense wat vir `Omri gevolg het, was te sterk vir die mense wat vir Tivni, die seun van Ginat, gevolg het en Tivni het gesterf en `Omri het koning geword.

23. In die een en dertigste jaar van Asa, koning van Y’hudah, het `Omri oor Yisra’el koning geword, twaalf jaar lank; hy het ses jaar in Tirtzah geheers.

24. Hy het die berg Shomron van Shemer gekoop vir twee talente silwer en op die berg gebou en die stad wat hy gebou het, Shomron genoem volgens die naam van Shemer, die eienaar van die berg.

25. `Omri het boos gedoen in die oë van יהוה en meer boos gehandel as almal wat voor hom was,

26. want hy het geloop in al die paaie van Yarov’am, die seun van N’vat en in sy sondes waarmee hy Yisra’el laat sondig het, om יהוה, die God van Yisra’el, te tart met hulle afgode.

27. Die res van die dade van `Omri, wat hy gedoen het en sy mag wat hy gewys het, is dit nie beskryf in ‘Die Boek van die Kronieke van die konings van Yisra’el’ nie?

28. `Omri is neergelê by sy vaders en is in Shomron begrawe en sy seun Ag’av het in sy plek koning geword.

29. Ag’av, die seun van `Omri, het koning geword oor Yisra’el in die agt en dertigste jaar van Asa, koning van Y’hudah en Ag’av, die seun van `Omri, het twee en twintig jaar lank in Shomron oor Yisra’el regeer.

30. Ag’av, die seun van `Omri, het boos gedoen in die oë van יהוה, meer as almal wat voor hom was.

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 16