Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 1:41-53 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

41. Adoniyah en al die gaste wat by hom was, het dit gehoor toe hulle net klaar geëet het. Toe Yo’av die geluid van die ramshoring hoor, het hy gesê: “Hoekom is daar so ’n oproerigheid in die stad?”

42. Terwyl hy nog praat, let op, kom Y’honatan, die seun van Evyatar, die priester, daar aan. Toe sê Adoniyah: “Kom in, want jy is ’n dapper man en bring goeie nuus.”

43. Y’honatan antwoord Adoniyah egter en sê: “Nee! Ons meester, koning Dawid, het Shlomo koning gemaak!

44. Die koning het vir Tzadok, die priester, Natan, die profeet, B’nayah, die seun van Y’hoyada, die persoonlike wagte en die boodskappers saam met hom gestuur en hulle het hom op die koning se muil laat ry.

45. Tzadok, die priester en Natan, die profeet, het hom in Gigon as koning gesalf en hulle het daarvandaan met blydskap opgekom sodat die stad in oproer is; dit is die geraas wat julle gehoor het.

46. Buitendien, Shlomo het selfs op die koninklike troon gaan sit.

47. Meer nog, die diensknegte van die koning het gekom om ons meester, koning Dawid, te seën en gesê: ‘Mag u God die naam (karakter en outoriteit) van Shlomo beter maak as u naam (karakter en outoriteit) en sy troon groter maak as u troon!’ Toe het die koning op die bed neergebuig.

48. Die koning het ook so gesê: ‘Geseënd is יהוה, die God van Yisra’el, wat vandag een gegee het om op my troon te sit terwyl my oë dit sien.’”

49. Toe was al die gaste van Adoniyah bevrees en hulle het opgestaan en elkeen sy pad gegaan.

50. Adoniyah was bang vir Shlomo en hy het opgestaan en die horings van die altaar gaan vasgryp.

51. Dit is vir Shlomo vertel en gesê: “Let op, Adoniyah is bang vir koning Shlomo, want let op, hy hou die horings van die altaar vas en sê: ‘Laat koning Shlomo vandag vir my sweer dat hy sy dienskneg nie met die swaard sal doodmaak nie.’”

52. Shlomo het gesê: “As hy ’n waardige man is, sal nie een van sy hare op die grond val nie, maar as boosheid in hom gevind word, sal hy sterf.”

53. Koning Shlomo het gestuur en hulle het hom van die altaar afgebring en hy het gekom en voor koning Shlomo op die grond gaan lê en Shlomo het vir hom gesê: “Gaan na jou huis toe.”

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 1