Ou Testament

Nuwe Testament

Yoganan 8:38-57 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

38. Ek praat van wat Ek by Mý Vader gesien het; julle doen wat julle by júlle vader gesien het.”

39. Hulle antwoord en sê vir Hom: “Ons vader is Avraham.” Yeshua sê vir hulle: “As julle die kinders van Avraham was, sou julle doen wat Avraham gedoen het,

40. maar nou, let op, julle beplan om My dood te maak. Dit is Ek wat aan julle die waarheid vertel, wat Ek van God gehoor het. Dit het Avraham nie gedoen nie,

41. maar julle doen die dade van julle vader.” Hierop sê hulle vir Hom: “Ons is nie uit seksuele immoraliteit gebore nie; ons het een Vader, naamlik God.”

42. Yeshua sê vir hulle: “As God julle Vader was, sou julle My liefhê, want Ek het van God af uitgegaan, want Ek het ook nie uit My eie plesier gekom nie, maar Hy het My gestuur.

43. Waarom verstaan julle nie wat Ek sê nie? Omdat julle nie My boodskap kan hoor nie.

44. Julle is van julle vader, die teëstander, en julle begeer om julle vader se wil te doen. Hy is ’n moordenaar van die begin af en staan nie in die waarheid nie omdat daar geen waarheid in hom is nie. Wanneer hy lieg, praat hy uit wat syne is, want hy is vanuit valsheid en die vader daarvan,

45. maar julle vertrou nie in My nie, Ek, wat die waarheid praat.

46. Wie van julle kan My oortuig van sonde? As Ek die waarheid praat, waarom vertrou julle My nie?

47. Wie ook al van God is, luister na die woorde van God; daarom luister julle nie omdat julle nie van God is nie.”

48. Die Jode antwoord en sê vir Hom: “Is ons nie reg as ons sê dat U van Shomron is en dat U ’n demoon het nie?”

49. Yeshua antwoord: “Ek het nie ’n demoon nie, maar Ek eer My Vader en julle onteer My.

50. Ek soek nie eer, lof en grootheid vir My nie, daar is Een wat soek en oordeel.

51. Dit is ’n tydlose waarheid wat Ek vir julle sê, wie ook al My boodskap uitvoer, sal die dood tot in ewigheid nooit sien nie.”

52. Die Jode sê vir Hom: “Nou weet ons dat U ’n demoon het. Avraham en die profete is dood en U sê: ‘Wie ook al My boodskap uitvoer, sal die dood tot in ewigheid nooit sien nie.’

53. Is U groter as ons vader Avraham en as die profete wat dood is? Wat dink U van Uself?”

54. Yeshua sê vir hulle: “As Ek eer en lof aan Myself bring, is My eer en lof niks nie; dit is My Vader wat My vereer en loof, van Wie julle sê dat Hy julle God is

55. en julle ken Hom nie, maar Ek ken Hom en as Ek sê dat Ek Hom nie ken nie, sal Ek soos julle ’n leuenaar wees, maar Ek ken Hom en voer Sy boodskap uit.Heb 11:10,13

56. Avraham, julle vader, het begeer om My dag te sien en hy het dit gesien en hom verheug.”

57. Die Jode sê vir Hom: “U is nog nie vyftig jaar oud nie en het U Avraham gesien?”Eks 3:14

Lees volledige hoofstuk Yoganan 8