Ou Testament

Nuwe Testament

Yoganan 5:19-31 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

19. Yeshua antwoord en sê vir hulle: “Dit is ’n tydlose waarheid wat Ek vir julle sê: die Seun kan niks uit Sy eie wil doen nie behalwe wat Hy die Vader sien doen, want die dinge wat die Vader doen, dit doen die Seun ook, net soos Hy,

20. want die Vader het Sy Seun lief en wys Hom alles wat Hyself doen en groter werke as hierdie sal Hy Hom wys sodat julle verwonderd kan wees,

21. want net soos die Vader die wat dood is, opwek en vir hulle lewe gee, net so gee die Seun ook lewe vir wie Hy wil.

22. Dit is nie die Vader wat die mens oordeel nie, maar Hy het al die veroordeling aan die Seun gegee

23. sodat almal die Seun kan eer, net soos hulle die Vader eer. Wie die Seun nie eer nie, eer nie die Vader wat Hom gestuur het nie.

24. Dit is ’n tydlose waarheid wat Ek vir julle sê: wie ook al My boodskap hoor en Hom vertrou wat My gestuur het, het die ewige lewe en kom nie in die veroordeling nie, maar het oorgegaan uit die dood in die lewe.

25. Dit is ’n tydlose waarheid wat Ek vir julle sê: daar kom ’n tyd en dit is nou, wanneer die wat dood is die stem van die Seun van God sal hoor en die wat dit hoor, sal lewe,

26. want net soos die Vader lewe het in Homself, net so het Hy aan die Seun ook gegee om lewe in Homself te hê.

27. Hy het aan Hom outoriteit gegee om ook te veroordeel

28. omdat Hy die Seun van die mens is. Moenie julle hieroor verwonder nie, want daar kom ’n tyd wanneer almal wat in die grafte is, Sy stem sal hoor

29. en sal uitgaan; die wat goed gedoen het, in die opstanding van die lewe in en die wat bose dade gedoen het, in die opstanding van die veroordeling in.

30. Ek kan niks uit My eie wil doen nie. Volgens wat Ek gehoor het, beoordeel Ek en My oordeel is regverdig omdat Ek nie Mý wil begeer nie, maar die wil van Hom wat My gestuur het.

31. As Ek van Myself getuig, dan is My getuienis nie waar nie.

Lees volledige hoofstuk Yoganan 5