hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21

Ou Testament

Nuwe Testament

Yoganan 5 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

1. Na hierdie dinge was daar ’n fees van die Jode en Yeshua het opgegaan na Yerushalayim.

2. In Yerushalayim is daar ’n sekere doopbad met vyf afdakke, wat in Aramees, Beit-Hesda genoem word,

3. waarby baie siekes gelê het: blindes, kreupeles en lammes, wat op die roering van die water gewag het,

4. want ’n engel het van tyd tot tyd in die doopbad afgekom en die water geroer. Die een wat dan die eerste ingaan ná die roering van die water, het gesond geword van watter siekte ook al op hom was.

5. Daar was egter ’n sekere man, wat agt en dertig jaar aan sy siekte gely het.

6. Yeshua het hom gesien lê en Hy het geweet dat hy al ’n lang tyd so is. Hy vra vir hom: “Wil jy gesond word?”

7. Die sieke antwoord Hom en sê: “O, my Meester, ek het niemand om my in die doopbad te sit as die water geroer word nie en terwyl ek op pad is, gaan ’n ander een voor my in.”

8. Yeshua sê vir hom: “Staan op, tel jou bedmat op en loop.”

9. Dadelik het die man gesond geword en sy bedmat opgetel en geloop en daardie dag was Shabbat.

10. Die Jode sê vir hom wat genees is: “Dit is Shabbat; dit is nie toegelaat vir jou om jou bedmat te dra nie.”

11. Hy antwoord en sê vir hulle: “Hy wat my gesond gemaak het, Hy het vir my gesê: ‘Tel jou bedmat op en loop’.”

12. Hulle vra hom: “Wie is die man wat vir jou gesê het: tel jou bedmat op en loop?”

13. Hy wat gesond geword het, het nie geweet wie Yeshua was nie, want Hy het Homself stilweg in die groot skare wat daar was, onttrek.

14. Na ’n tyd het Yeshua hom in die tempel gekry en vir hom gesê: “Let op, jy is gesond; moenie aanhou sondig nie sodat daar nie iets ergers as tevore met jou gebeur nie.”

15. Die man het gegaan en aan die Jode vertel dat dit Yeshua was wat hom gesond gemaak het

16. en hieroor het die Jode Yeshua vervolg en beplan om Hom dood te maak omdat Hy dit op die Shabbat gedoen het.

17. Yeshua self sê vir hulle: “My Vader is tot nou toe besig om te werk en Ek is ook besig om te werk.”

18. Hieroor het die Jode toe nog ernstiger beplan om Hom dood te maak omdat Hy nie net die Shabbat verbreek het nie, maar ook omdat Hy beweer het dat God Sy Vader is en daardeur gesê het dat Hy self ook gelyk is aan God.

19. Yeshua antwoord en sê vir hulle: “Dit is ’n tydlose waarheid wat Ek vir julle sê: die Seun kan niks uit Sy eie wil doen nie behalwe wat Hy die Vader sien doen, want die dinge wat die Vader doen, dit doen die Seun ook, net soos Hy,

20. want die Vader het Sy Seun lief en wys Hom alles wat Hyself doen en groter werke as hierdie sal Hy Hom wys sodat julle verwonderd kan wees,

21. want net soos die Vader die wat dood is, opwek en vir hulle lewe gee, net so gee die Seun ook lewe vir wie Hy wil.

22. Dit is nie die Vader wat die mens oordeel nie, maar Hy het al die veroordeling aan die Seun gegee

23. sodat almal die Seun kan eer, net soos hulle die Vader eer. Wie die Seun nie eer nie, eer nie die Vader wat Hom gestuur het nie.

24. Dit is ’n tydlose waarheid wat Ek vir julle sê: wie ook al My boodskap hoor en Hom vertrou wat My gestuur het, het die ewige lewe en kom nie in die veroordeling nie, maar het oorgegaan uit die dood in die lewe.

25. Dit is ’n tydlose waarheid wat Ek vir julle sê: daar kom ’n tyd en dit is nou, wanneer die wat dood is die stem van die Seun van God sal hoor en die wat dit hoor, sal lewe,

26. want net soos die Vader lewe het in Homself, net so het Hy aan die Seun ook gegee om lewe in Homself te hê.

27. Hy het aan Hom outoriteit gegee om ook te veroordeel

28. omdat Hy die Seun van die mens is. Moenie julle hieroor verwonder nie, want daar kom ’n tyd wanneer almal wat in die grafte is, Sy stem sal hoor

29. en sal uitgaan; die wat goed gedoen het, in die opstanding van die lewe in en die wat bose dade gedoen het, in die opstanding van die veroordeling in.

30. Ek kan niks uit My eie wil doen nie. Volgens wat Ek gehoor het, beoordeel Ek en My oordeel is regverdig omdat Ek nie Mý wil begeer nie, maar die wil van Hom wat My gestuur het.

31. As Ek van Myself getuig, dan is My getuienis nie waar nie.

32. Daar is ’n ander een wat van My getuig en Ek weet dat die getuienis wat hy aangaande My gee, waar is.

33. Julle het na Yoganan toe gestuur en hy het van die Waarheid getuig.

34. Ek aanvaar nie die getuienis van ’n mens nie, maar Ek sê dit sodat julle kan lewe.

35. Hy was ’n brandende en skynende lamp en julle wou grootpraat oor die tydjie in sy lig,

36. maar Ek het ’n groter getuienis as dié van Yoganan, want die werke wat die Vader My gegee het om te voltooi, die werke wat Ek doen, getuig self van My dat die Vader My gestuur het.

37. Die Vader wat My gestuur het, Hy getuig van My. Julle het nog nooit van ewigheid af Sy stem gehoor of Sy voorkoms gesien nie

38. en julle het Sy Boodskap nie as iets wat bly in julle nie omdat julle Hom wat Hy gestuur het, nie vertrou nie.

39. Ondersoek die Skrifte, want in húlle het julle ’n versekerde verwagting dat julle die ewige lewe het en hulle getuig van My,

40. tog wil julle nie na My toe kom om die ewige lewe te kry nie.

41. Ek aanvaar nie eer, lof en grootheid van mense nie,

42. maar Ek ken julle, dat die liefde van God nie in julle is nie.

43. Ek het gekom in die Outoriteit en Karakter van My Vader en julle aanvaar My nie. As ’n ander een in sy eie karakter en outoriteit kom, hóm sal julle aanvaar.

44. Hoe kan julle vertrou? Julle aanvaar eer en lof van mekaar en die eer en lof wat van die Een God kom, aanvaar julle nie.

45. Dink julle dat Ek julle by die Vader aankla? Daar is een wat julle aankla, Moshe op wie julle ’n versekerde verwagting het,Gen 49:10; Num 24:17; Deut 18:15-18

46. want ás julle Moshe geglo het, sou julle My glo, want hy het van My geskryf.

47. Aangesien julle nie glo wat hy geskryf het nie, hoe gaan julle glo wat Ek sê?”