Ou Testament

Nuwe Testament

Yoganan 2:7-22 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

7. Yeshua sê vir hulle: “Maak die kanne vol water.” Hulle het hul tot by die rand toe vol gemaak.

8. Hy sê vir hulle: “Skep nou uit en vat dit vir die seremoniemeester.” Hulle het dit gevat.

9. Toe die seremoniemeester die water, wat wyn geword het, proe (hy het nie geweet waar dit vandaan kom nie, maar dié wat bedien en die water geskep het, het geweet), roep die seremoniemeester die bruidegom

10. en sê vir hom: “Alle mense sit eers die goeie wyn voor en, wanneer hulle goed gedrink het, dan die slegte, maar u het die goeie wyn tot nou toe gehou.”

11. Hierdie eerste een van Sy wonderwerke het Yeshua in Kanah in die Galil gedoen en Hy het Sy eer, lof en grootheid gewys en Sy studentevolgelinge het in Hom vertrou.

12. Daarna het Hy na K’far-Nagum afgegaan, saam met Sy moeder, Sy broers en Sy studentevolgelinge en hulle was ’n paar dae daar.

13. Pesag van die Jode was naby en Yeshua het na Yerushalayim opgegaan

14. en Hy het die verkopers van beeste, skape, duiwe en die geldwisselaars wat daar sit, in die tempel gekry.

15. Hy het vir Homself ’n sweep van tou gemaak en almal uit die tempel uitgedryf; die skape en die beeste en die geldstukke van die wisselaars het Hy ook uitgegooi en hulle tafels omgekeer.

16. Vir die duiweverkopers het Hy gesê: “Vat hierdie goed hier uit; moenie die huis van My Vader ’n huis vir handeldryf maak nie.”Ps 69:10

17. Sy studentevolgelinge het egter onthou dat daar geskrywe is: “Die ywer vir U huis het My verteer.”

18. Hierop antwoord die Jode en sê vir Hom: “Watter wonderteken wys U vir ons dat U hierdie dinge doen?”

19. Yeshua antwoord en sê vir hulle: “Breek hierdie tempel af en in drie dae sal Ek dit oprig.”

20. Die Jode sê vir Hom: “Ses en veertig jaar lank word aan hierdie tempel gewerk en U sal dit in drie dae oprig?”

21. Hy het dit gesê aangaande die Tempel van Sy liggaam

22. en nadat Hy uit die graf uit opgestaan het, het Sy studentevolgelinge onthou dat Hy dit vir hulle gesê het en hulle het die Skrif en die boodskap wat Yeshua gebring het, vertrou.

Lees volledige hoofstuk Yoganan 2