Ou Testament

Nuwe Testament

Yoganan 19:10-22 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

10. Hierop sê Pilatos vir Hom: “Praat U nie met my nie? Weet U nie dat ek outoriteit het om U dood te maak aan die kruis en outoriteit het om U los te laat nie?”

11. Yeshua antwoord: “U sou geen outoriteit oor My hê as dit nie van bo vir u gegee is nie; daarom het hy wat My aan u oorgee, groter sonde as u.”

12. Hierop het Pilatos probeer om Hom los te laat, maar die Jode het geskree en gesê: “As u Hom loslaat, is u nie die keiser se vriend nie. Elkeen wat homself koning maak, is in opstand teen die keiser.”

13. Toe Pilatos dit hoor, het hy Yeshua buitentoe gebring en op die regterstoel gaan sit in die plek wat Plaveisel genoem word, maar in Hebreeus ‘Gabta.’

14. Dit was omtrent sesuur (dagbreek) en die voorbereiding vir die Pesag en hy sê vir die Jode: “Let op, hier is julle Koning!”

15. Hulle roep egter uit: “Vat Hom weg, vat Hom weg, kruisig Hom, kruisig Hom!” Pilatos vra vir hulle: “Moet ek julle Koning kruisig?” Die leierpriesters antwoord: “Ons het geen koning behalwe die keiser nie.”

16. Toe het hy Hom aan hulle oorgegee om aan ’n kruis doodgemaak te word. Hulle het Yeshua gevat en Hom weggelei.

17. Hy het Sy kruishout gedra en uitgegaan na die plek wat Skedel (Ar. Qaraqpatha) genoem word; in Hebreeus: Gagulta,

18. waar hulle Hom doodgemaak het aan ’n kruis en saam met Hom twee ander; een aan elke kant en Yeshua in die middel.

19. Pilatos het ook ’n opskrif geskryf en dit op die paal gesit. Daar is geskryf: YESHUA, VAN NATZERET, DIE KONING VAN DIE JODE.

20. Baie van die Jode het hierdie opskrif gelees omdat die plek waar Yeshua aan die kruis gehang het, naby die stad was. Dit is in Hebreeus, Grieks en Latyns geskryf

21. en die leierpriesters van die Jode het vir Pilatos gesê: “Moenie skryf: ‘Die Koning van die Jode’ nie, maar, ‘dat Hy gesê het: Ek is die Koning van die Jode’.”

22. Pilatos het geantwoord: “Wat ek geskryf het, het ek geskryf.”

Lees volledige hoofstuk Yoganan 19