Ou Testament

Nuwe Testament

Romeine 15:14-28 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

14. Ek is ook, my broers, oortuig van julle, dat julle self ook vol is van wat goed is en vol van alle kennis, in staat om ook ander te leer.

15. Ek het egter ’n bietjie vrymoediglik aan julle geskryf, my broers, om julle te herinner, volgens die onverdiende guns wat aan my gegee is deur God

16. dat ek ’n dienaar van Yeshua, Die Gesalfde Een, onder die ander nasies kan wees en ek kan werk vir die goeie boodskap van God sodat die offer van die ander nasies miskien aanvaar kan word en afgesonder word deur die Gees van Afsondering.

17. Dit is daarom vir my ’n trots in Yeshua, Die Gesalfde Een, tot God,

18. want ek waag nie om enige iets, anders as wat Die Gesalfde Een deur my gedoen het ten aanhore van die ander nasies, deur boodskap en daad,

19. deur die krag van tekens en wonderwerke en deur die krag van die Gees van God, te sê nie, om só die verkondiging van die goeie boodskap van Die Gesalfde Een te voltooi van Yerushalayim af tot by Illurikon

20. terwyl ek daarop konsentreer om nie die goeie boodskap te verkondig waar Die Gesalfde Een se Karakter en Outoriteit (Naam) reeds uitgeroep is nie, om so nie op ’n vreemde fondament te bou nie,Yes 52:15

21. maar net soos geskrywe is: “Hulle aan wie Hy nie verkondig is nie, sal Hom sien en hulle wat nie gehoor het nie, sal oortuig wees.”

22. Ek is ook baie keer verhinder om na julle toe te kom,

23. maar nou dat ek geen plek meer het in hierdie streke nie en al baie jare die begeerte het om na julle toe te kom,

24. hoop ek om na julle toe te kom en julle te sien wanneer ek na Spania gaan en wanneer ’n paar van julle my daarheen sal vergesel, sal ek verheug wees om julle te sien.

25. Nou gaan ek egter na Yerushalayim om die afgesonderdes te bedien,

26. want dié wat in Makedonia en Agaia is het dit goedgedink om te deel met die armes onder die afgesonderdes in Yerushalayim.

27. Hulle was gewillig omdat hulle dit ook aan hulle verskuldig is, want as hulle, in die geestelike, deelgenote gemaak is met die ander nasies, is hulle ook verskuldig om hulle met die fisiese te dien.

28. Wanneer ek dit dus afgehandel het en vir hulle hierdie vrug oorgegee het, sal ek by julle verbygaan Spania toe.

Lees volledige hoofstuk Romeine 15