Ou Testament

Nuwe Testament

Markos 5:25-38 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

25. Daar was ’n sekere vrou wat twaalf jaar lank bloedvloeiing gehad het,

26. wat baie onder baie geneeshere gely het, al haar besittings uitgegee het en niks het gehelp nie, maar dit het, inteendeel, erger geword.

27. Toe sy van Yeshua gehoor het, het sy tussen die druk van die skare van agter af gekom en Sy bo-kleed aangeraak,

28. want sy het gesê: “As ek Sy klere kan aanraak, sal ek lewe.”

29. Dadelik het die bron van haar bloed opgedroog en sy het aan haar liggaam geweet dat sy van haar siekte genees is.

30. Dadelik het Yeshua in Homself geweet dat krag van Hom af uitgegaan het en Hy draai Hom om tussen die skare en sê: “Wie het my klere aangeraak?”

31. Sy studentevolgelinge antwoord Hom: “U sien dat die skare U van alle kante af druk en U sê: ‘Wie het My aangeraak’?”

32. Hy het rondgekyk om te sien wie dit gedoen het,

33. maar die vrou, wat bang was en gebewe het omdat sy geweet het wat met haar gebeur het, kom en val voor Hom neer en vertel Hom die hele waarheid.

34. Hy sê vir haar: “My dogter, jou vertroue het aan jou lewe gegee. Gaan in vrede, vergenoegdheid, gesondheid en voorspoed en wees genees van jou siekte.”

35. Terwyl Hy nog praat, kom daar mense van die hoof van die bymekaarkomplek se huis en sê: “U dogter is dood. Waarom val u die Leermeester nog lastig?”

36. Yeshua het die woorde gehoor wat hulle gesê het en Hy sê vir die hoof van die bymekaarkomplek: “Moenie vrees nie; hou net aan vertrou.”

37. Hy het niemand toegelaat om saam met Hom te gaan nie, behalwe Shim’on Kefa, Ya’akov en Yoganan, die broer van Ya’akov.

38. Hulle kom by die huis van die hoof van die bymekaarkomplek en sien die wat omgekrap was, huil en weeklaag.

Lees volledige hoofstuk Markos 5