Ou Testament

Nuwe Testament

Markos 1:5-20 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

5. Die hele streek van Y’hudah en die inwoners van Yerushalayim het uitgegaan na hom toe en hy het almal in die Yardenrivier gedoop, wanneer hulle hul sondes erken en aflê.

6. Yoganan was aangetrek met klere van kameelhare en ’n gordel van leer om sy heup en sy kos was sprinkane en heuning van die veld.

7. Hy het verkondig en gesê: “Let op, ná my kom Een wat magtiger is as ek en ek is nie waardig om af te buk en sy sandaal se band los te maak nie.

8. Ek het julle in water gedoop, maar Hy sal julle in die Gees van Afsondering doop.”

9. Dit was in daardie dae dat Yeshua, van Natzeret in die Galil, gekom het en Hy deur Yoganan in die Yarden gedoop is

10. en dadelik, toe Hy opkom uit die water uit, sien hy die hemele skeur en die Gees soos ’n duif op Hom neerdaal

11. en daar was ’n Stem uit die hemel: “Jy is My Seun, wie Ek lief het, waarmee Ek tevrede is.”

12. Dadelik het die Gees Hom uitgedryf na die wildernis toe.

13. Hy was daar in die wildernis vir veertig dae terwyl Hy getoets is deur die teëstander. Hy was saam met die wilde diere en die engele het Hom bedien.

14. Nadat Yoganan gevang is, het Yeshua na die Galil gekom en die goeie boodskap van die Koninkryk van God verkondig

15. en gesê dat die tyd tot volheid gekom het en dat die Koninkryk van God naby gekom het; draai om na God toe en vertrou in die goeie boodskap.

16. Terwyl Hy langs die see van Galila loop, sien Hy vir Shim’on en Andreas, sy broer, besig om ’n net in die see te gooi, want hulle was vissers

17. en Yeshua sê vir hulle: “Kom agter My aan en Ek sal julle vissers van mense maak”

18. en dadelik het hulle hul nette laat staan en Hom gevolg.

19. ’n Entjie verder aan, sien Hy vir Ya’akov, die seun van Zavdai en Yoganan, sy broer, asook dié in die boot besig om hulle nette heel te maak

20. en Hy het hulle geroep en dadelik het hulle hul vader, Zavdai, in die skuit saam met die huurlinge laat staan en Hom gevolg.

Lees volledige hoofstuk Markos 1