Ou Testament

Nuwe Testament

Luka 9:10-21 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

10. Toe die afgevaardigdes terugkom, het hulle aan Yeshua alles wat hulle gedoen het vertel en Hy het hulle alleen na ’n verlate plek in die streek van Beit-Tzaidah gevat,

11. maar toe die mense dit te wete kom, het hulle Hom gevolg en Hy het hulle ontvang en met hulle gepraat oor die Koninkryk van God en die wat genesing nodig gehad het, gesond gemaak.

12. Toe die dag einde se kant toe staan, kom Sy studentevolgelinge na Hom toe en sê vir Hom: “Stuur die mense weg sodat hulle na die dorpe en plase in die omtrek kan gaan om te oornag en vir hulleself kos kan kry, want ons is hier in ’n verlate plek.”

13. Yeshua sê vir hulle: “Gee julle vir hulle kos,” maar hulle sê: “Daar is nie meer as vyf brode en twee visse by ons nie, tensy ons kos gaan koop vir al hierdie mense,”

14. want daar was omtrent vyf duisend mans, maar Hy sê vir Sy studentevolgelinge: “Laat hulle in groepe van vyftig sit.”

15. Sy studentevolgelinge het dit so gedoen en almal laat sit.

16. Yeshua vat die vyf brode en die twee visse, kyk op na die hemel, seën dit, breek dit en gee dit aan die studentevolgelinge om aan die mense voor te sit

17. en hulle het almal geëet en is versadig en hulle het twaalf (12) mandjies vol van die oortollige stukke opgetel.

18. Toe Hy alleen was, besig om te bid, was die studentevolgelinge by Hom en Hy vra hulle en sê: “Wie sê die mense is Ek?”

19. Hulle antwoord en sê: “Yoganan, die Doper, ander weer Eliyahu, ander weer dat een van die ou profete opgestaan het.”

20. Hy sê vir hulle: “Maar julle, wie sê julle is Ek?” Shim’on antwoord en sê: “Die Gesalfde Een van God!”

21. Hy het hulle ernstig gewaarsku om dit aan niemand te vertel nie.

Lees volledige hoofstuk Luka 9