Ou Testament

Nuwe Testament

Luka 9:1-13 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

1. Yeshua roep die twaalf en gee aan hulle krag en outoriteit oor al die demone en siektes om die siektes gesond te maak

2. en Hy het hulle uitgestuur om die Koninkryk van God te verkondig en die siekes gesond te maak

3. en vir hulle gesê: “Vat niks saam nie; geen staf of beursie vir die pad, of brood of geld nie en moenie twee kledingstukke by julle hê nie.

4. In watter huis julle ook mag ingaan, bly dáár en gaan van dáár af uit

5. en as iemand julle nie ontvang nie, wanneer julle van daardie stad af weggaan, skud die stof van julle voete af, tot ’n getuienis teen hulle.”

6. Die afgevaardigdes het uitgegaan na die dorpe en stede en in elke plek die goeie boodskap verkondig en siekes gesond gemaak.

7. Herodes, die heerser oor ’n kwart van die land, hoor toe van al die dinge wat deur Hom gedoen is en hy was verwonderd daaroor omdat sommige gesê het dat Yoganan uit die dode opgestaan het,

8. maar ander dat Eliyahu verskyn het en ander dat een van die ou profete opgestaan het.

9. Herodes het gesê: “Yoganan het ek onthoof, maar wie is hierdie man van wie ek sulke dinge hoor?” Hy het begeer om Hom te sien.

10. Toe die afgevaardigdes terugkom, het hulle aan Yeshua alles wat hulle gedoen het vertel en Hy het hulle alleen na ’n verlate plek in die streek van Beit-Tzaidah gevat,

11. maar toe die mense dit te wete kom, het hulle Hom gevolg en Hy het hulle ontvang en met hulle gepraat oor die Koninkryk van God en die wat genesing nodig gehad het, gesond gemaak.

12. Toe die dag einde se kant toe staan, kom Sy studentevolgelinge na Hom toe en sê vir Hom: “Stuur die mense weg sodat hulle na die dorpe en plase in die omtrek kan gaan om te oornag en vir hulleself kos kan kry, want ons is hier in ’n verlate plek.”

13. Yeshua sê vir hulle: “Gee julle vir hulle kos,” maar hulle sê: “Daar is nie meer as vyf brode en twee visse by ons nie, tensy ons kos gaan koop vir al hierdie mense,”

Lees volledige hoofstuk Luka 9