Ou Testament

Nuwe Testament

Luka 22:46-61 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

46. en Hy sê vir hulle: “Hoekom slaap julle? Staan op en bid dat julle nie getoets word nie.”

47. Terwyl Hy nog praat, let op, kom daar ’n groep mense en hy wat Y’hudah genoem word, een van die twaalf, het voor hulle uitgeloop na Yeshua toe en Hom gesoen, as ’n teken wat hy vir hulle gegee het: “Wie ek ook al soen, dit is Hy.”

48. Yeshua sê vir hom: “Y’hudah, verraai jy die Seun van die mens met ’n soen?”

49. Toe die wat by Hom was, sien wat gaan gebeur, sê hulle vir Hom: “Ons Meester, moet ons hulle met swaarde neerslaan?”

50. Een van hulle het die slaaf van die hoofpriester geslaan en sy regteroor afgesny,

51. maar Yeshua het geantwoord en gesê: “Genoeg vir nou!” Hy het die oor van die een wat gewond is, aangeraak en hom gesond gemaak.

52. Yeshua sê vir hulle wat na Hom toe gekom het, die leierpriesters, oudstes en kaptein van die tempelwagte: “Het julle opgetrek teen My soos teen ’n rower met swaarde en knopkieries om My te vang?

53. Elke dag was Ek saam met julle in die tempel en julle het nie die hande aan My geslaan nie, maar hierdie is julle en die prins van die duisternis se uur.”

54. Hulle het Hom gevang en Hom gebring in die huis van die hoofpriester, maar Shim’on het op ’n afstand gevolg.

55. Hulle het ’n vuur in die middel van die binneplaas aangesteek en om dit gaan sit en Shim’on het saam met hulle gesit.

56. ’n Sekere slavin het hom by die vuur sien sit en nadat sy hom stip aangekyk het, sê sy: “Hierdie man was ook saam met Hom.”

57. Hy het dit ontken en gesê: “Vrou, ek ken Hom nie.”

58. Kort daarna sien ’n ander een hom en sê: “Jy is ook een van hulle.” Kefa antwoord egter: “Ek is nie.”

59. Ná ongeveer ’n uur het ’n ander een daaroor gestry en gesê: “Sekerlik, hierdie man was ook saam met Hom, want hy is ook van die Galil.”

60. Kefa antwoord: “Man, ek weet nie wat jy sê nie.” Onmiddellik toe hy praat, het ’n haan gekraai.

61. Yeshua het omgedraai en na Kefa gekyk en Shim’on het die woord van ons Meester onthou wat Hy vir hom gesê het: “Voordat die haan kraai, sal jy My drie maal ontken.”

Lees volledige hoofstuk Luka 22