Ou Testament

Nuwe Testament

Luka 12:6-25 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

6. Word vyf mossies nie vir twee assarii verkoop nie? Nie een van hulle is voor God vergete nie,

7. maar selfs die hare van julle kop is almal getel. Wees dan nie bang nie: julle is meer werd as baie mossies.

8. Ek sê vir julle: ‘elkeen wat My sal erken voor die mense, hom sal die Seun van die mens ook erken voor die engele van God,

9. maar hy wat My ontken voor mense, sal ontken word voor die engele van God.

10. Elkeen wat ’n woord teen die Seun van die mens sal sê, dit sal hom vergewe word, maar vir hom wat sleg gepraat het teen die Gees van Afsondering, sal dit nie vergewe word nie.’

11. Wanneer hulle julle sal bring voor die vergaderings van die owerhede en die outoriteite, moet julle nie angstig wees oor hoe julle jul sal verdedig, of wat julle sal sê nie,

12. want die Gees van Afsondering sal julle in daardie oomblik leer wat julle moet sê.”

13. ’n Man uit die skare sê vir Hom: “Leermeester, sê vir my broer dat hy die erfenis met my moet deel.”

14. Yeshua sê egter vir hom: “Man, wie het My as regter of verdeler oor julle aangestel?”

15. Hy sê vir Sy studentevolgelinge: “Wees versigtig vir begeerlikhede, want lewe bestaan nie uit die oorvloed van besittings nie.”

16. Hy vertel vir hulle hierdie vergelykende storie: “ ’n Sekere ryk man se grond het baie voortgebring

17. en hy het by homself gedink en gesê: ‘Wat sal ek doen, want ek het geen plek waarin ek my oes kan bymekaarmaak nie?’

18. Hy sê: ‘Dit sal ek doen: ek sal my skure afbreek en groter skure bou en ek sal al my opbrengste en my goed daarin bymekaarmaak

19. en ek sal vir myself sê: “Jy, jy het baie goed wat gestoor is en wat baie jare sal hou; rus, eet, drink en wees vrolik.”’

20. God het egter vir hom gesê: ‘Jou dwaas, in hierdie nag sal jou gees van jou teruggeneem word en wat jy voorberei het, wie s’n sal dit wees?’

21. So gaan dit met hom wat vir homself skatte bymekaarmaak en nie ryk is in God nie.”

22. Hy het vir Sy studentevolgelinge gesê: “Ek sê daarom vir julle: moenie angstig wees oor julle lewe nie, oor wat julle sal eet, of oor julle liggaam, wat julle sal aantrek nie.

23. Die gees is belangriker as kos en die liggaam as klere.

24. Let op die kraaie, want hulle saai nie en hulle oes nie; hulle het geen opgaarplek of skuur nie en tog voed God hulle. Hoeveel meer is julle nie werd as die voëls nie!

25. Wie onder julle kan, deur ywerig te wees, een el by sy lengte bysit?

Lees volledige hoofstuk Luka 12