Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 9:8-22 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

8. Toe staan Sha’ul van die grond af op en maak sy oë oop, maar hy kon niks sien nie en hulle het hom aan die hand gelei en in Dammesek ingebring.

9. Vir drie dae het hy niks gesien en niks geëet of gedrink nie.

10. Daar was ’n sekere studentevolgeling in Dammesek met die naam van Gananyah en יהוה het vir hom in ’n visioen gesê: “Gananyah!” Hy antwoord: “Dit is ek, my Meester.”

11. Ons Meester sê vir hom: “Staan op en gaan na die straat wat genoem word Reguitstraat en doen navraag in die huis van Y’hudah, na ’n man van Tarsus met die naam van Sha’ul, want let op, hy bid.

12. Hy sien in ’n visioen ’n man met die naam van Gananyah inkom, wat hom die hande oplê sodat hy weer kan sien.”

13. Gananyah antwoord: “My Meester, ek het van baie mense aangaande hierdie man gehoor, hoeveel boosheid hy aan die afgesonderdes in Yerushalayim gedoen het

14. en let op, ook hier het hy outoriteit van die leierpriesters om almal te vang wat hulle beroep op U Outoriteit en Karakter.”

15. יהוה sê vir hom: “Staan op en gaan, want hy is vir My ’n gekose instrument om My Outoriteit en Karakter te neem voor nasies, konings, asook die kinders van Yisra’el,

16. want Ek sal hom wys hoeveel hy vir My Karakter en Outoriteit (Naam) moet ly.”

17. Toe het Gananyah gegaan en in die huis gekom en hom die hande opgelê en gesê: “Sha’ul, my broer, ons Meester, Yeshua, Hy wat aan jou verskyn het op die pad toe jy gekom het, het my gestuur sodat jou oë oopgemaak kan word en jy met die Gees van Afsondering gevul kan word.”

18. Dadelik het daar iets soos skubbe van sy oë afgeval en hy kon onmiddellik sien en hy het opgestaan en is gedoop.

19. Nadat hy geëet het, het hy weer sterk geword en Sha’ul was ’n paar dae saam met die studentevolgelinge in Dammesek.

20. Hy het dadelik in die bymekaarkomplekke van die Jode verkondig aangaande Yeshua, dat Hy die Seun van God is

21. en almal wat hom gehoor het, was verstom en het gesê: “Is hy nie die man wat in Yerushalayim dié wat hierdie Outoriteit en Karakter aanroep vervolg het en hierheen gekom het met die doel om hulle vasgebind na die leierpriesters te bring nie?”

22. Sha’ul het al kragtiger geword en die Jode wat in Dammesek bly, verontrus deur te bewys dat hierdie Een Die Gesalfde Een is,

Lees volledige hoofstuk Handelinge 9