Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 9:13-31 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

13. Gananyah antwoord: “My Meester, ek het van baie mense aangaande hierdie man gehoor, hoeveel boosheid hy aan die afgesonderdes in Yerushalayim gedoen het

14. en let op, ook hier het hy outoriteit van die leierpriesters om almal te vang wat hulle beroep op U Outoriteit en Karakter.”

15. יהוה sê vir hom: “Staan op en gaan, want hy is vir My ’n gekose instrument om My Outoriteit en Karakter te neem voor nasies, konings, asook die kinders van Yisra’el,

16. want Ek sal hom wys hoeveel hy vir My Karakter en Outoriteit (Naam) moet ly.”

17. Toe het Gananyah gegaan en in die huis gekom en hom die hande opgelê en gesê: “Sha’ul, my broer, ons Meester, Yeshua, Hy wat aan jou verskyn het op die pad toe jy gekom het, het my gestuur sodat jou oë oopgemaak kan word en jy met die Gees van Afsondering gevul kan word.”

18. Dadelik het daar iets soos skubbe van sy oë afgeval en hy kon onmiddellik sien en hy het opgestaan en is gedoop.

19. Nadat hy geëet het, het hy weer sterk geword en Sha’ul was ’n paar dae saam met die studentevolgelinge in Dammesek.

20. Hy het dadelik in die bymekaarkomplekke van die Jode verkondig aangaande Yeshua, dat Hy die Seun van God is

21. en almal wat hom gehoor het, was verstom en het gesê: “Is hy nie die man wat in Yerushalayim dié wat hierdie Outoriteit en Karakter aanroep vervolg het en hierheen gekom het met die doel om hulle vasgebind na die leierpriesters te bring nie?”

22. Sha’ul het al kragtiger geword en die Jode wat in Dammesek bly, verontrus deur te bewys dat hierdie Een Die Gesalfde Een is,

23. maar ná ’n geruime tyd het die Jode beraadslaag om hom dood te maak.

24. Hulle plan wat hulle aan hom wou doen is aan Sha’ul gewys. Hulle het die poorte dag en nag opgepas sodat hulle hom kon doodmaak.

25. Toe het die studentevolgelinge hom gevat en in die nag in ’n mandjie vanaf die muur laat afsak.

26. Hy het aangegaan na Yerushalayim en by die studentevolgelinge probeer aansluit, maar almal was bang vir hom en het nie vertrou dat hy ’n studentevolgeling was nie.

27. Bar-Nabba het hom gevat en na die afgevaardigdes gebring en aan hulle vertel presies hoe Die Meester op die pad aan hom verskyn en met hom gepraat het en hoe hy in Dammesek vrymoediglik in die Outoriteit en Karakter van Yeshua gepraat het.

28. Hy het saam met hulle in en uit Yerushalayim gegaan

29. en vrymoediglik in die Outoriteit en Karakter van Yeshua gepraat en ook met die Griekssprekende Jode gedebatteer, maar hulle het probeer om hom dood te maak.

30. Toe die broers dit agterkom, het hulle hom in die nag na Kaisareia gevat en hom weggestuur na Tarsus toe.

31. Hierna het die gemeentes deur die hele Y’hudah, die Galil en Shomron vrede, gesondheid, voorspoed en vergenoegdheid gehad en is opgebou. Hulle het voortgegaan in die respekvolle vrees van יהוה en het gegroei in die ondersteuning van die Gees van Afsondering.

Lees volledige hoofstuk Handelinge 9