Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 20:6-19 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

6. Ná die ‘Dae van die Ongesuurde Brode’ het ons van Filippi af geseil en in vyf dae by hulle in Troas gekom, waar ons sewe dae lank gebly het.

7. Op die eerste dag van die week, toe ons vergader het om die brood van Yeshua se herdenking te breek, het Sha’ul met hulle gepraat en omdat hy die volgende dag sou vertrek, het hy sy boodskap verleng tot middernag toe.

8. Daar was baie lampe wat gebrand het in die boonste vertrek waar ons bymekaargekom het

9. en ’n jongman met die naam van Eutugos het in die venster gesit en luister en is oorval met ’n diep slaap toe Sha’ul nog lank gepraat het en in sy slaap het hy vanaf die derde verdieping geval en is dood opgetel.

10. Toe gaan Sha’ul ondertoe en val op hom en slaan sy arms om hom en sê: “Moenie verontrus wees nie, want sy gees is in hom.”

11. Hy het toe boontoe gegaan, brood gebreek en geëet en nadat hy nog ’n geruime tyd gepraat het; tot dagbreek toe; het hy vertrek.

12. Hulle het die seun lewend huis toe geneem en hulle saam met hom verheug,

13. maar ons het vooruit op die skip gegaan en afgevaar na Assos, waar ons van plan was om Sha’ul aan boord te neem, want so het hy dit beplan omdat hy self te voet wou gaan.

14. Toe hy ons dan in Assos ontmoet, het ons hom aan boord geneem en by Mitulene gekom.

15. Die volgende dag het ons van daar af weggevaar en teenoor Gios gekom en die dag daarna na Samos oorgevaar en in Trogullion oorgebly en die dag daarop by Miletos gekom,

16. want Sha’ul het besluit om by Efesos verby te vaar sodat hy nie in Asië tyd sou spandeer nie, want hy het gou gemaak om, as dit vir hom moontlik was, die ‘Fees van Weke’ (Shavu’ot) in Yerushalayim te vier.

17. Hy het van Miletos af na Efesos gestuur en die oudstes van die gemeente laat roep.

18. Toe hulle by hom kom, sê hy vir hulle: “Julle weet self hoe ek, van die eerste dag dat ek in Asië aangekom het, die hele tyd by julle was

19. as slaaf vir God, met alle nederigheid, baie trane en toetse wat oor my gekom het deur die samewerings van die Jode.

Lees volledige hoofstuk Handelinge 20